|

AfriForum bemagtig jong onderwysers met veiligheidsmaatreëls oor konflikhantering en sosiale media

AfriForum se teenboelieveldtogspan en die organisasie se  privaatvervolgingseenheid het op 11 September  meer as 200 jong onderwysers by die Hoërskool Centurion oor konflikhantering, veiligheidsmaatreëls, boeliery en die gevare van sosiale media toegespreek. Hierdie toespraak is tydens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Beginneronderwyserseminaar gelewer.

Vir die afgelope sewe jaar bemagtig AfriForum skole landwyd met sy teenboelieveldtog deur hoop te skep en kinders aan te moedig om mekaar met respek te behandel. Volgens Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum, is dit egter ook belangrik om onderwysers te bemagtig, veral met die beduidende toename van tegnologie en die gebruik van sosiale media. Tydens haar sessie het sy die onderwysers oor die gevare van sosiale media vertel.

In Suid-Afrika het onderwysers die reg om hulself te beskerm teen boeliery, hetsy van ouers of kinders, deur verskeie wetlike meganismes en prosedures wat beskikbaar is in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en die grondwetlike regstelsel. Die Grondwet van Suid-Afrika, die Skolewet en die Werkplekbeleid bied onderwysers beskerming teen intimidasie en mishandeling. Die volgende gee ’n oorsig van onderwysers se regte en hoe hulle hulself teen boeliery kan beskerm:

  • Grondwetlike regte: Onderwysers het grondwetlike regte, soos die reg op gelykheid (artikel 9), die reg op menswaardigheid (artikel 10), die reg op veiligheid en sekuriteit van die persoon (artikel 12), die reg op vryheid van geloof (artikel 15), die reg op vryheid van assosiasie (artikel 18), die reg op billike arbeidspraktyk (artikel 23) en die reg tot regverdige administratiewe aksies (artikel 33). Hierdie regte sluit in dat hulle nie aan mishandeling en fisieke of verbale intimidasie onderwerp mag word nie.
  • Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997: Die Wet op basiese diensvoorwaardes beskerm onderwysers teen intimidasie en onbillike behandeling in hul werksomgewing. Dit sluit in die reg om in ’n veilige werksomgewing te werk, wat vry van geweld en ander vorme van misbruik is.
  • Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995: Onderwysers het ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge die reg om klagte in te dien teen enige vorm van boeliery of intimidasie by hul skoolhoofde, onderwysdepartemente, of vakbonde, wat dan gepaste stappe kan neem om hulle te beskerm. Dit sluit in die indiensneming van dissiplinêre prosesse teen oortreders.
  • Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996: Dit handel oor die funksionering van openbare skole, die inwerkingstelling van veiligheidsmaatreëls en hoe die gedrag van leerders gerig moet word in ooreenstemming met die gedrags- en dissiplinêre kode.
  • Strafproseswet 51 van 1977: Dit maak voorsiening vir die reg om te swyg en die reg tot regsverteenwoordiging
  • Gedragskode en skoolbeleid: Elke skool moet ’n gedragskode hê wat nie net vir leerders nie, maar ook vir ouers en personeel geld. Onderwysers kan die skool se beleid rakende boeliery gebruik om optrede teen intimidasie of mishandeling op te los. Skoolhoofde en beheerliggame is verplig om toepaslike stappe te neem om boeliery te hanteer.
  • Vakbonde en professionele organisasies: Onderwysers kan ondersteuning en regshulp kry deur vakbonde soos Solidariteit en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Hierdie organisasies bied riglyne, prosedures en stappe om klagtes teen boeliery formeel in te dien en beskerming te verseker.

“Daar is toenemende kommer dat kinderregte dikwels belangriker geag word as dié van opvoeders, wat die kritieke rol van onderwysers ondermyn. Die media se sensasiegedrewe beriggewing dra hiertoe by en verwaarloos die waarde wat opvoeders in die lewe van leerders bring. Onderwysers vorm die basis van alle professies en dra groot verantwoordelikheid, maar hul regte word dikwels oorskadu. Terwyl leerders se regte belangrik is, moet daar balans wees tussen hul regte en dié van onderwysers, wat jare ná hul leerders in die beroep bly. Onderwysers se bydraes tot dissipline en ontwikkeling is van onskatbare waarde en moet beskerm word, terwyl gemeenskappe ’n verantwoordelikheid het om hulle te ondersteun,” meen adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

In geheel kan onderwysers hulself teen boeliery beskerm deur gebruik te maak van hul wetlike regte, die skool se interne prosesse en die ondersteuning van vakbonde en professionele liggame.

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings