|

AfriForum besoek Laerskool Villieria met die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie en entrepreneursopleiding

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 6 Junie Laerskool Villieria besoek om dié Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie bekend te stel sowel as om  leierskapsontwikkeling en entrepreneursopleiding aan te bied.

AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie met groot sukses van stapel gestuur. Hierdie kompetisie is intussen uitgebrei deur voorsiening te maak vir hoërskoolleerders met ’n passie en kop vir entrepreneurskap en hierdie kategorie staan bekend as die juniorpreneurskategorie.

“AfriForum glo dat dié kompetisie leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het, het ons gesien dat daar leerders is wat ook graag wil deelneem en hulle entrepreneursvaardighede ten toon wil stel. Dit is nou die vierde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied en dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks toeneem en dat leerders ook sien hoe belangrik hulle eie ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

“Laerskool Villieria is ’n besonderse skool met leerders wat vriendelikheid uitstraal en ons is uit die staanspoor deur ’n groep behulpsame leerders begroet. Die Besigheidsbytjiesspan het die voorreg gehad om met die graad 7-leerlinge te gesels en hulle te vertel van entrepreneurskap. Hul entoesiasme tydens die praatjie was aansteeklik en ek is vol vertroue dat hierdie leerders deurspek is met ’n nuutgevonde ywer om hul entrepreneuriese reise aan te pak,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys.

“Ons hier by Villies is baie dankbaar vir AfriForum se besoek. Ons leerders het die aanbieding vreeslik geniet. Dit was lekker om te hoor dat jy nooit te jonk is om ’n entrepreneur te wees nie. Die leerders is baie opgewonde oor die idee van hulle eie onderneming en ons kan al die inligting en idees benut in kwartaal drie wanneer ons ons eie markdag hou,” sê Mathilda Marais, EBW onderwyser by die Laerskool Villieria.

Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting oor hierdie inisiatief. Die publiek kan ook tussen 12 en 30 Junie op die webtuiste vir hul gunsteling entrepreneur stem.

Volgende jaar sal die kompetisie weer vir laer- en hoërskoolleerders oop wees. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings