|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het dié week gewaarsku dat die watergehalte in Suid-Afrika kommerwekkende vlakke bereik het. Dié burgerregteorganisasie is ook nog besig om stem dik te maak oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wet) wat ’n groot impak op skole en veral moedertaalonderrig kan hê.

Die uitslae van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se interim blou- en groendruppel-, asook geen-water-verslag is vandeesweek bekendgemaak. Dit beklemtoon die kommer wat AfriForum al die afgelope paar jaar uitspreek. Alhoewel heelwat watersisteme wat getoets is darem in bogemiddelde toestand is, is daar veral in die Vrystaat, Limpopo, Noord-Kaap en Noordwes sisteme wat in kritieke toestand is. Drinkwatergehalte toon dat 51% van getoetste sisteme se mikrobiologiese watergehalte swak is.

“Hierdie skets ’n uiters kommerwekkende prentjie veral omdat die mikro- en chemiese voldoeningsontledings dui op groot probleme, aangesien daar by 13 watersisteme geen watergehalte gemoniteer word nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

Verteenwoordigers van AfriForum het in Upington by die BELA-verhoor ’n mondelinge voorlegging gedoen waarin daar beklemtoon is dat die ANC met hierdie wetgewing poog om meer mag oor skole te kry. Hierdie wet kan vernietigende gevolge inhou vir Afrikaanse onderrig en moedertaalonderrig.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, lewer ’n mondelinge voorlegging by die BELA-verhoor in Upington.

AfriForum het ’n dringende brief aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gerig oor die erge verval by Melrose-huis. Met ’n onlangse besoek het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, eerstehands die verval aan die buitekant van die gebou gesien. Toegang tot die binnekant van die gebou is nie tans moontlik nie en luidens mediaberigte het die gebou aan die binnekant groot waterskade.

“Die huidige stand van sake is onaanvaarbaar en laat ’n mens met die negatiewe indruk dat die metroraad nie omgee vir erfenis nie. Daar is baie ander voorbeelde van museums en historiese geboue in Suid-Afrika wat onbepaald gesluit is totdat die koste om dit te restoureer byna onhaalbaar geword het. Melrose-huis kan nie dieselfde pad volg nie,” sê Bailey.

Alana Bailey (AfriForum) en Freddie Peters (Lid van die Vaaldriehoek-kultuurnetwerk)

Verskeie AfriForum-takke het die afgelope week ’n klomp slaggate herstel. Takke is uitgedaag om soveel as moontlik slaggate te herstel as deel van AfriForum se nasionale slaggatprojek wat vandeesweek afgeskop het. In Benoni is 240 slaggate reeds herstel en in Krugersdorp en Parys is onderskeidelik drie ton teer en 90 sakkies teer gebruik om slaggate te herstel. Die Vryheid- en Paulpietersburg-tak het saam met die Kambula Boerevereniging gewerk om slaggate op die R33 te herstel. Dié takke het ongeveer 400 sakkies teer bekom vir die R33-projek.

Verskeie AfriForum-takke het vandeesweek slaggate herstel.

Ander AfriForum-takke het ook ingespring om ’n verskil te maak. Die Groter Moot-tak het 94 vuilgoedsakke vol rommel weggery, die Noord van die berg-tak het 69 bakkievragte rommel weggery en in Fochville is die area rondom dié dorp se hoof substasie skoongemaak.

AfriForum het ook vandeesweek ’n gids met wenke vir vuurwapeneienaars bekendgestel. Alles van hoe om aansoek te doen vir ’n lisensie en hoe om ’n vuurwapen te vervoer, word hierin bespreek.

Soortgelyke plasings