|

AfriForum stig tak in Kannaland

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op Woensdag 7 Junie na ’n vergadering in Ladismith ’n splinternuwe tak gestig, die Kannaland-tak. Dit volg nadat daar uit verskillende oorde navraag van AfriForum-lede vir ’n tak in die area was.

Die nuutverkose bestuur vir dié tak is: Carel Buckle (voorsitter), Phillip Pretorius (ondervoorsitter), Johanita Nel (sekretaris), Anita Basson (tesourier), Dries Erasmus (veiligheid), Darius Botha (jeug), Peter van den Heever (plaaslikeregeringsake), Ronnie Diedericks (omgewingsake) en Johanita Nel (sosiale media, bemarking en werwing).

Tydens die stigtingsvergadering het David Olivier, AfriForum se veiligheidspesialis vir die Suidstreek, ’n toespraak gelewer oor AfriForum se visie vir die toekoms en hoe dié organisasie te werk gaan. Olivier het verder uitgebrei oor die beginsel van gemeenskapsfederalisme en hoekom gemeenskappe daarna moet streef. Daarna het Olivier AfriForum se bestuursmodel verduidelik en die verkiesingsproses uiteensit waarna lede tot die betrokke poste verkies is.

“Die bestuur is baie trots om deel van AfriForum te wees en is gereed om hul take aan te pak. Ons sien uit daarna om talle selfdoenprojekte van stapel te stuur om sodoende die gemeenskap te dien en meer weerbaar te maak,” sê Carel Buckle, voorsitter van die Kannaland-tak.

Om betrokke te raak by AfriForum se Kannaland-tak kontak Carel Buckle by 081 079 1272.

Soortgelyke plasings