|

AfriForum dien Paia-aansoek teen eThekwini-metro in

AfriForum het op 7 Oktober ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ’n aansoek teen die eThekwini-metro gebring. AfriForum eis ’n verslag van die skade wat deur die oorstromings veroorsaak is, ’n tydskedule vir die herstel van die skade sowel as ’n verslag oor die rampfonds vir die April 2022 oorstromings. Dit volg op ’n reeks versoeke wat tevergeefs aan die metro gestuur is.

“Durban en omliggende gemeenskappe is deur oorstromings getref en baie skade is aangerig, maar dis onaanvaarbaar dat noodsaaklike infrastruktuur nie spoedig herstel word nie. Rou riool loop in riviere en uiteindelik in die see in en gevolglik moet strande gesluit word,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum het ook onlangslangs kriminele klagtes teen die eThekwini-metro vir rioolbesoedeling aanhangig gemaak. Terselfdertyd het AfriForum ook klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien. Mangate wat oorloop en aangemeld word geniet nie aandag nie.

“By Winkelspruit loop ’n rioolmangat al ’n geruime tyd oor en die riool vloei selfs tot binne woonstelle,” sê Jannie van Staden, voorsitter van die Amanzimtoti-tak.

“Ek ontvang daagliks klagtes van ons lede in die Queensburgh- en Pinetown-omgewing van riool wat riviere besoedel. Dis onbegryplik dat hierdie probleem nie die aandag kry wat dit verdien nie,” sê Reinette Mostert, voorsitter van die Durban-Wes-tak.

“Volgens die eThekwini-metro se finansiële jaarverslag van 2020/21, is dié metro se eiendomsbelasting se bydrae tot die metro se begroting, R 9,2 miljard. Daar kan dus geen verskoning wees om nie die herstelwerk te doen nie. Volgens ons Grondwet het elkeen die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie en op die beskerming van die omgewing,” sluit Van Aswegen af.

Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help, sms jou “naam” na 45267(R1), of “stop” om uit te teken.

Soortgelyke plasings