AfriForum besoek plaasaanvalslagoffers saam met Duitse openbare uitsaaier


Die burgerregte-organisasie AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan het die afgelope week ’n dag saam met die Engelbrecht-familie buite Fochville spandeer nadat twee lede van dié familie – Fanie (78) en Colleen (74) – op 13 Mei vanjaar tydens ’n wrede plaasaanval vermoor is. ’n Duitse openbare TV-uitsaaier – Zweites Deutsches Fernsehen (ZDF) – het AfriForum tydens die besoek vergesel waar daar met Jo-an en Sua Engelbrecht, die vermoorde egpaar se seun en skoondogter, gesels is sodat die uitsaaier die Engelbrechts se storie kan vertel.
Jo-an het sy ouers in hul huis op die plaas Welgevonden dood aangetref. Colleen is onder meer met ’n strykyster gebrand voordat sy verwurg en haar keel afgesny is.

“Ons moet seker maak dat elke slagoffer se storie vertel word en dat niemand slegs ’n statistiek word nie, ons mense se stories moet deur die wêreld gesien word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron meen die wêreld moet sien hoe die Suid-Afrikaanse regering herhaaldelik misluk om planne vir landelike veiligheid in werking te stel en dat gemeenskappe aan hul eie lot oorgelaat is wanneer dit by veiligheid kom. Dít volg slegs ’n week nadat Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, genoem het dat gru- en oordrewe stories oor Suid-Afrika in die buiteland versprei word, asook kort nadat Bheki Cele, minister van polisie, wéér versuim het om plaasmoorde tot prioriteitsmisdade te verklaar.

Soortgelyke plasings