AfriForum betrokke by opknapping van Phalaborwa-begraafplaas


As deel van AfriForum se Rus in Vrede-veldtog waartydens begraafplase in Suid-Afrika opgeknap en netjies gemaak word, het die burgerregtewaghond ‘n skrywe aan die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin versoek word om die Phalaborwa-begraafplaas reg te ruk.
Die munisipaliteit het op 31 Julie 2017 besoek aan die begraafplaas saam met die plaaslike AfriForum-tak afgelê en nadat die erns van die saak besef is, is daar reeds die volgende dag met opknappingswerk begin, waaronder om nuwe heinings om die begraafplaas op te rig.

Volgens Saartjie Matthysen, voorsitter van die AfriForum-tak in Phalaborwa, was die begraafplaas besig om heeltemal te verval. “Ons is bly om te sien dat die munisipaliteit besig is om die begraafplaas skoon te maak.”

Matthysen het bygevoeg dat AfriForum ook beplan om die ingangsbord na die begraafplaas te vervang, maar wag nog vir goedkeuring vanaf die munisipaliteit.

Gail van Barkenhuizen, sekretaris van die AfriForum-tak in Phalaborwa, beklemtoon dat AfriForum die opknappingsprojek saam met die munisipaliteit wil aanpak om sodoende te verseker dat die skoonmaak en opknapping van die begraafplaas volhoubaar is. “Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die skoonmaak en opknapping, maar ons sal bystand bied en help waar ons kan.”

Soortgelyke plasings