|

AfriForum betwis kortlys vir hoofregterkandidate wat in omstredenheid gehul is

Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat die kortlys van kandidate vir die pos van hoofregter daarop dui dat die regering nie ernstig is om die oppergesag van die reg en die onafhanklikheid van die regbank te beskerm nie.

Die kortlys sluit John Hlophe, huidige regter-president van die Wes-Kaap in, wat al vir verskeie misdrywe deur mederegters aangekla is. Hlophe is ook al skuldig bevind aan growwe wangedrag deur die Regterlike Dienstekommissie. Nog ’n kandidaat, Busisiwe Mkhwebane, se geskiktheid as Openbare Beskermer (OB) word steeds deur die parlement ondersoek. Die ondersoek is van stapel gestuur ná talle bevindinge wat Mkhwebane in haar verslae as OB gemaak het, wat later deur die howe ter syde gestel is. AfriForum het Mkhwebane ook in 2020 versoek om te bedank nadat sy vir meineed ondersoek is.

Luidens onlangse mediaberigte is twee ervare regskenners, regter David Unterhalter en adv. Alan Dodson, glo van die kortlys verwyder omdat hulle wit is.

“As ’n mens in ag neem dat dit tydens die Zondo-kommissie aan die lig gekom het dat die ANC se kaderontplooiingskomitee ook die aanstelling van regters bespreek het, skets dit ’n uiters kommerwekkende prentjie. Die vraag word dus gevra: Hoe beland regters met sulke twyfelagtige verledes op hierdie kortlys? Die ANC se kaderontplooiing het reeds die land lamgelê deur die aanstelling van onbekwame maar lojale ANC-lede in gesagsposisies. Dit kan nie toegelaat word dat die regstelsel ook ’n slagoffer word van hierdie korrupte agenda nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings