| | | |

Die verspreiding van foto’s op sosiale media en ander platforms

Deur Marnus Kamfer

Buurtwagte en ander veiligheidstrukture se teenwoordigheid in dorpe en stede is lankal nie meer ’n vreemde gesig in Suid-Afrika nie. Omdat polisiepatrollievoertuie onklaar geraak het, beskadig is of eenvoudig net verdwyn het, verwelkom burgers in Suid-Afrika hulle medegemeenskapslede se inisiatiewe om hul onderskeie gemeenskappe se weerbaarheid te verhoog.

Buurtwagte bestaan egter nie net uit sigbaarheidspatrollies met magnete en ligte nie. Alhoewel laasgenoemde ’n groot rol speel in die bekamping van misdaad, is ander proaktiewe maatreëls ook van wesenlike belang. Die verspreiding van foto’s van vermeende misdadigers is een van dié wyses waarop gemeenskapslede poog om mekaar te beskerm. Alhoewel enige inisiatief wat gemeenskapslede onderneem om hulle gemeenskappe se veiligheid teen misdaad te verbeter merkwaardig is en aangeprys moet word, moet sekere van die inisiatiewe, soos die verspreiding van foto’s, van tyd tot tyd onder die loep geneem word om seker te maak dat alle inisiatiewe altyd binne die raamwerk van die wet geskied.

In die geval waar ’n persoon ’n foto van iemand publiseer (die deel daarvan op sosiale media of ander boodskapplatforms word ook as publikasie geag) sonder die skriftelike goedkeuring van die betrokke provinsiale of nasionale polisiekommissaris is die persoon wat verantwoordelik is vir die publikasie skuldig aan ’n misdryf en kan ’n groot boete opgelê word of selfs tronkstraf ontvang[1].

Dit geld vir wanneer:

  • ’n Verdagte wat ’n misdryf gepleeg het en in aanhouding is hangende ’n besluit om die persoon krimineel te vervolg.
  • ’n Verdagte in aanhouding is hangende die begin van ’n strafregtelike vervolgingsproses in ’n saak waar die persoon ’n beskuldigde is.
  • ’n Persoon ’n getuie of waarskynlike getuie in ’n kriminele saak is en in aanhouding is hangende die strafregtelike vervolgingsproses waar die persoon moet getuig.

Bo en behalwe die bogemelde bestaan die volgende risiko’s onder meer:

  1. Indien die foto van die verdagte persoon wyd en syd versprei word, kan dit tot gevolg hê dat die persoon, indien hy/sy wel in hegtenis geneem word, deur middel van sy/haar regspraktisyn aanvoer dat hy/sy nie die reg op ’n billike verhoor geniet het soos gewaarborg in die Grondwet nie[2], en dat die identifikasieparade waar hy/sy uitgeken is nie regverdig plaasgevind het nie omdat die waarskynlikheid bestaan dat die persoon se foto moontlik al op sosiale media vóór die parade deur die uitkenner gesien is.
  2. Die persoon wie se foto sonder sy/haar toestemming versprei word, kan moontlik verdere stappe doen omdat daar inbraak gemaak is op sy/haar grondwetlike reg op privaatheid[3]. Verder kan die persoon aanvoer dat dié optrede die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (die POPI-wet)[4] oortree omdat die persoon se persoonlik inligting (wat ’n foto insluit ingevolge die definisie in die wet[5]) sonder die persoon se toestemming verwerk is. (Wat die versending daarvan insluit ingevolge die definisie in die wet[6].)

Waar laat dit dan nou die gemeenskapslid wat net sy/haar gemeenskap teen kriminele elemente wil beskerm en hulle bedag wil maak ten einde hulle paraatheid op te skerp?

Op plaaslike vlak het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) groot waardering vir die gemeenskap wat hulle oorwerkte of hulpelose hande, afhangende van die betrokke polisiekantoor, sterk in die stryd teen misdaad en deur proaktiewe en waaksame optrede, boosdoeners die gebied ontsê. Die SAPD stel van tyd tot tyd foto’s en inligting van gesoekte verdagtes vry wat versprei mag word omdat dit onder meer onder die uitsluitings van die POPI-wet[7] en binne die bestek van die beperkingsklousule van die Grondwet[8] sorteer.

Buurtwagleiers en die persoon/persone wat in die struktuur afgevaardig is met die hantering en verwerking van informasie behoort ’n leidende rol te speel ten einde hul gemeenskapslede te ondersteun in die daarstelling van prosesse wat gevolg moet word alvorens foto’s van die aard verder of enigsins versprei word. Soos hierbo bespreek, sal die SAPD leiding kan bied met betrekking tot die risiko wat die verspreiding van die foto moontlik kan meebring en is dit wenslik dat hulle geken word in die oorweging om die foto te versprei, al dan nie.


[1] Artikel 69 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995

[2] Artikel 35(3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 108 van 1996

[3] Artikel 14 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 108 van 1996

[4] Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013

[5] Artikel 1 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013

[6] Artikel 1 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013

[7] Artikel 6 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013

[8] Artikel 36 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 108 van 1996

Soortgelyke plasings