|

AfriForum en boere help gemeenskap met water ná munisipaliteit nie rekening betaal nie

Die Bethal-gemeenskap het onlangs weer deurgeloop onder die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se wanbestuur. Rand Water het die waterdruk na dié dorp verminder weens die  munisipaliteit se onvermoë om hul rekening te vereffen. AfriForum se Bethal-tak is genoop om in te gryp en het water vanuit die noodwaterpunte aan die gemeenskap voorsien. 

Boere van die Bethal-omgewing het ook ondanks die droogte nie gehuiwer om tenks vol water na die dorp te stuur nie. Intussen het AfriForum se regspan reeds met Rand Water in gesprek getree en verdere regstappe word oorweeg.

Die burgerregteorganisasie het in 2023 ’n bevel in die Pretoriase Hooggeregshof bekom teen die vermindering van waterdruk deur Rand Water. Luidens dié bevel is hierdie praktyk ongeldig en ongrondwetlik. Voorts voer AfriForum aan dat dié proses ook nie ingestel kan word sonder om die gemeenskap vooraf daarvan in kennis te stel nie.

“Ons is dankbaar dat die boere, te midde van hul eie uitdagings, weereens die dorp bygestaan het. Ons kan ’n verskil maak so lank as wat ons saam staan en saam werk om dit te bewerkstellig,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Volgens Bekker is dit egter onaanvaarbaar dat die gemeenskap gestraf moet word vir die munisipaliteit se swak bestuur. “Daar is riglyne wat gevolg moet word om geskille ten opsigte van wanbetaling op te los. Om ’n gemeenskap se toegang tot water af te sny sonder om hulle daarvan in kennis te stel is ’n drastiese en onmenslike stap.”

Sluit vandag nog by jou naaste tak aan om só ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Voeg jou stem hier by AfriForum se saak.

Soortgelyke plasings