AfriForum bevraagteken UP-insig in taalbeleid se gevolge en diens aan studente


Volgens Netwerk 24 en ander media meen die Universiteit van Pretoria (UP) AfriForum se kommentaar oor die universiteit se taalbeleid kom op wanbegrip neer. Die woordvoerder van dié universiteit voer volgens die berigte aan dat UP meertaligheid en sosiale kohesie op die kampus bevorder deur ’n eentalige Engelse beleid op alle vlakke van kommunikasie (van administratief tot as enigste onderrigtaal vir 2019 se eerstejaars) te volg.

AfriForum vind dit kommerwekkend dat die universiteit, in weerwil van talle internasionale navorsingsprojekte en deskundiges se insette, steeds nie verstaan dat eentalige onderrig juis sosiale kohesie ondergrawe en die potensiaal vir konflik en wanprestasie onder studente verhoog nie. Dit is ook duidelik dat die universiteitsbestuur nie die woord “meertalig” verstaan nie. As studente op kampus, in onderriglokale en selfs in studentebehuising slegs een taal – naamlik die koloniale taal Engels – gebruik, is daar van eentaligheid sprake, nie van meertaligheid nie, want daar is immers geen ruimte vir meer tale in die formele universiteitsomgewing nie.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, haal UP graag aan hoe die aantal moedertaalsprekers van Afrikaans aan UP afgeneem het. “UP moet vir ’n slag noem hoeveel studente moedertaal-Engelssprekendes is en dus die enigste groepie bevoordeelde studente aan die instelling is, teenoor die sprekers van ander moedertale wat nou in hul tweede, derde of selfs vierde spreektaal onderrig word.”
“Nóg AfriForum, nóg AfriForum Jeug het al ooit gevra dat Afrikaans die enigste onderrigtaal van UP moet wees – inteendeel, ons het opsies van drie tale voorgestel, wat Engels insluit,” voeg Bailey by. “Op hierdie wyse word kohesie bevorder, aangesien die menswaardigheid van moedertaalsprekers van meer as een taal erken en uitgevoer word. Die tale self word uitgebou. In ’n onlangse uitspraak het die Italiaanse grondwethof bevind dat die morele plig by universiteite berus om hul onderskeie lande se onvervangbare kultuurbates – naamlik  inheemse tale – te beskerm, te bewaar en uit te bou, deur dit as primêre mediums van onderrig te gebruik. UP verwys na geen plan om in die toekoms enige ander taal tot gelyke status as Engels te bevorder nie, dus is daar geen verbintenis teenoor moedertaalonderrig nie.”
Volgens Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusse, hou die universiteit se ondernemings teenoor 2018 se eerstejaars van lesings, tutoriale, studiehandleidings en assesseringsmateriaal (soos vraestelle en werkopdragte) wat steeds in Afrikaans ontvang sal word in die kursusse wat by registrasie in Afrikaans aangebied is, nie water nie. “AfriForum Jeug beskik oor klagtes van studente wat in 2018 reeds nie meer hierdie dienste ontvang het nie. Die universiteit ontduik eenvoudig sy ondernemings met verskonings soos dat die betrokke dosente nie Afrikaans kan praat nie. Dié studente word dan aan hul eie lot oorgelaat.”

AfriForum en AfriForum Jeug is bereid om die gesprek oor taal met die universiteit voort te sit om ten minste oplossings vir dié studente te vind, maar om ook weer die betekenis en belangrikheid van meertaligheid en moedertaalonderrig onder hulle aandag te bring.

Soortgelyke plasings