AfriForum bied inligtingsessie oor onwettige grondbesetting, plaasbeveiliging aan


Die AfriForum-tak in Potchefstroom het in samewerking met AfriSake en ander plaaslike veiligheidsrolspelers op Saterdag, 26 Augustus 2017 ’n inligtingsessie aangebied wat op gemeenskapsveiligheid, onwettige grondbesettings en stakings gefokus het.
Die sessies is aangebied deur Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregadvieseenheid by AfriSake, Hein Gonzales van AfriForum en genl.maj. Roland de Vries. Tydens die geleentheid is daar veral op die integrasie van vermoëns gefokus, met ander woorde die samewerking tussen die gemeenskap, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), nooddienste en privaat sekuriteitsinstansies in die stryd teen misdaad. Ander veiligheidsrolspelers in die gemeenskap, insluitend verteenwoordigers van die plaaslike SAPD en CB Sekuriteit, het ook lesings aangebied.
Castle het grondeienaars raad gegee oor wat hul te doen staan wanneer hul grond onwettig beset word, terwyl Gonzales gefokus het op lesse wat uit die Coligny-situasie geleer kan word.

“Ons gemeenskappe moet proaktief deur middel van gemeenskapsgebaseerde veiligheidsinisiatiewe begin optree om te voorkom dat hulle soos onlangs in Coligny slagoffers van kriminele elemente word. Dít kan deur noue samewerking met alle rolspelers in die gemeenskap bewerkstellig word, insluitend maar nie beperk nie tot die polisie,” het Gonzales tydens die verrigtinge gesê.

Genl.maj. De Vries se lesing het gehandel oor Projek Nehemia, AfirForum se gemeenskapstrategie teen geweldsmisdaad. Dié projek fokus op die doeltreffende bekamping van geweldsmisdaad sodat weerlose gemeenskappe veilig, vreedsaam en voorspoedig kan lewe.

Soortgelyke plasings