|

Jonges van Nelspruit wys hulle kan op hul voete dink

Moet hulle nie onderskat nie.

Dít is nou die leerlinge van die Hoërskool Nelspruit wat die afgelope naweek hul slag in AfriForum se Dink-of-Sink-debatskompetisie gewys het.

Die skool het vir die eerste keer aan dié gewilde wedstryd deelgeneem en albei senior debatspanne het tot die eindronde van noordelike streek deurgedring.

Gerhard van der Merwe, Joshua Matthee en Wehan Viljoen het met vlymskerp en vermaaklike debat daarin geslaag om met die louere as senior kampioene weg te stap.

Helpmekaar Kollege se Jolinda de Kock, Simóne Shirley en Anja Steyn gaan die junior span in die noordelike streek se eindronde verteenwoordig. Dit vind op 23 September in Centurion plaas.

Die Noorde kom dan te staan teen die Hoër Meisieskool Oranje van Bloemfontein (sentrale streek) en Dr. D.F. Malan van Kaapstad (suidelike streek). Albei dié skole se senior en junior spanne het tot die eindronde deurgedring.

Dink-of-Sink is ’n onvoorbereide debatskompetisie. Dit word vanjaar vir die tweede keer landwyd aangebied. Die mediavennote is Beeld, Die Burger en Die Groot Ontbyt op kykNET.

Volgens Carien Bloem, koördineerder van onderwysprojekte by AfriForum, is die doel van die wedstryd om hoërskoolleerlinge se denk- en redenasievermoëns in Afrikaans te ontwikkel sodat hulle hulself later as volwassenes behoorlik kan uitdruk en standpunt kan inneem.

Soortgelyke plasings