AfriForum bekommerd oor myne sonder waterlisensies


AfriForum het op 28 Augustus 2017 ’n brief aan Edna Molewa, minister van water en sanitasie, gerig in verband met die aantal myne wat sonder waterlisensies myn. 
Dít volg nadat dit bekend geword het dat ’n geraamde 103 myne sonder waterlisensies werk en dat talle nog nie vir dié lisensies aansoek gedoen het nie. AfriForum ontvang ook baie klagtes van gemeenskapslede oor myne wat water besoedel.

“Dit is onaanvaarbaar dat die departement van water en sanitasie myne toelaat om vir jare lank sonder geldige waterlisensies te werk. Wanneer myne waterwette verontagsaam, het dit ’n negatiewe uitwerking op waterhulpbronne en dit is iets wat Suid-Afrika as waterskaarsland nie kan bekostig nie,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregte organisasie het onder meer in die brief versoek:

  1. dat die aantal myne wat steeds sonder ’n waterlisensie werk, bekend gemaak word;
  2. watter stappe die minister in plek het om te verseker dat onwettige mynboubedrywighede dringend aandag geniet deur myne te dwing om onmiddellik vir waterlisensies aansoek te doen; en
  3. Watter moniteringsprosesse die departement vir ’n spesifieke myn in plek gaan stel ná afloop van die uitreiking van die myn se waterlisensie.

“Die probleem is dat, hoewel daar toepaslike waterwetgewing en -regulasies bestaan, dit nie altyd behoorlik gemoniteer en afgedwing word in die geval van mynboubedrywighede nie,” sluit Boshoff af.

SMS jou naam na 45354 (R1) om AfriForum se aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings