|

AfriForum-buurtwag gryp in waar brandweer misluk

Die ernstige verval van dienslewering in die Sekhukune Distriksmunisipaliteit en die lewering van nooddienste deur die brandweer hier in die besonder, het nou ’n ernstige laagtepunt bereik. Dít het AfriForum se Marble Hall-buurtwag nou laat besluit om in te gryp en die gemeenskap met brandbestrydingsoperasies by te staan. Hiervoor is nuwe brandbestrydingstoerusting ter waarde van nagenoeg R50 000 aangekoop.

Dié besluit volg veral nadat ’n huis op dié dorp in Maart vanjaar in puin gelê is weens ’n brand. Hoewel die plaaslike brandweer uitgeroep is om die brand te blus, het daar dadels van gekom en die woning is vernietig.

“Daar is altyd baie vrywilligers uit die Marble Hall-gemeenskap wat wil help om die verswelgende brande wat dikwels in die omgewing voorkom, te blus. Die tekort aan toerusting was egter voorheen ’n reuse-uitdaging. Die 1 000 liter-brandbestrydingswaterkar wat nou aangekoop is, sal die buurtwag in staat stel om brande in en om Marble Hall te help bestry,” verduidelik Jannie Beeslaar, AfriForum se Marble Hall-buurtwagleier.

“AfriForum kan nie net toekyk hoe ’n gesin of boer alles in ’n brand verloor omdat die brandweer nie die nodige toerusting of wilskrag het om brande te bestry nie. Dit is vir ons ’n prioriteit om so ver as moontlik die verliese te probeer minimaliseer en buurtwaglede met die nodige toerusting en opleiding te bemagtig om die gemeenskap op hierdie manier by te staan,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo. 

Winterbrande: Wees voorbereid

Volgens Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis, word ’n warmer as gewone winter vir Suid-Afrika voorspel, wat die risiko vir die uitbreek van veldbrande ook hoër as gewoonlik maak. “Behoorlike voorsorg is dus belangrik, maar ’n mens moet ook weet hoe om tydens en ná ’n brand op te tree,” sê sy.

Voorsorgmaatreëls wat Cooks voorstel, sluit in om ontruimingsroetes te ken en om ’n reserwevoorraad van water en persoonlike beskermende toerusting (PPE) byderhand te hou. Sy sê voorts die brandgevaarindeks (BGI) moet daagliks dopgehou word om vroegtydig op dae met ’n hoë risiko op te tree.

“’n Hoë brandgevaar beteken natuurlik nie daar gaan definitief ’n brand uitbreek nie, maar ekstra voorsorgmaatreëls, soos om diere op kraal te hou, is ’n goeie idee. As ’n brand wel sou uitbreek, is dit belangrik om te onthou dat die veiligheid van mense alles anders troef. In dié verband is iets wat maklik agterweë bly kommunikasie. Ingeligte mense het ’n veel beter kans om veilig te bly of om ’n brand te blus,” sê Cooks.

Tydens ’n veldbrand moet die brand so gou as moontlik aangemeld en diere beveilig word. Nóg ’n goeie wenk is om binne die “swart” te bly. Dit verwys na plekke waar die brand reeds gewoed het. Dit is ook belangrik om van ’n N95-gesigmasker gebruik te maak en gehidreer te bly. Ná die brand moet daar opgeruim word. Blus dus gloeiende kole om te verhoed dat die vuur weer opvlam.

Sluit vandag nog aan by AfriForum se Marble Hall-tak en maak ’n daadwerklike verskil in hierdie dorp. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings