| |

AfriForum protesteer teen omstrede Bela-wetsontwerp by parlement

’n Groot groep lede van AfriForum het vandag by verskeie ander organisasies en partye voor die parlementsgebou in Kaapstad aangesluit om beswaar teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) te maak. Die wetsontwerp word vandag by die Nasionale Vergadering ter tafel gelê.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, maak dié burgerregte-organisasie al sedert 2017 beswaar teen aspekte van die wetsontwerp wat ouers se seggenskap oor die taal- en toelatingsbeleid van hulle kinders se skole sal beëindig. AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n direkte aanval teen Afrikaanse onderrig, wat uiters negatiewe gevolge vir gehalte onderrig in veral Afrikaanse enkelmedium, maar uiteindelik ook alle Suid-Afrikaanse skole sal hê.

“Die minister van Basiese Onderwys, die adjunk-minister en ANC-lede van die portefeuljekomitee wat reeds die wetsontwerp goedgekeur het, maak geen geheim daarvan dat hulle ’n einde aan Afrikaanse skole wil bring nie – ’n stap wat in effek ’n einde aan moedertaalonderrig in alle tale buiten Engels in die land sal bring. Daarbenewens kan die wetgewing hulle dan bemagtig om bestaande skole voller te stop, in plaas daarvan om wanfunksionele skole reg te ruk en meer skole te bou – nog ’n stap wat gehalte onderrig in die land sal ondermyn,” verduidelik Bailey.

Sy voeg by dat die ANC duidelik die wetsontwerp probeer stoomroller deur al die prosesse om dit voor die verkiesing van 2024 geïmplementeer te kry. “Dit sal meer mag in die onbevoegde hande van die staat sentreer en gemeenskappe se betrokkenheid by hulle skole deur middel van demokraties verkose beheerliggame betekenisloos maak. Tans kan die beheerliggame finaal oor skole se taal- en toelatingsbeleid besluit, maar hierdie wetsontwerp stel voor dat dié mag voortaan by die provinsiale hoofde van onderwys moet berus, met ander woorde by politieke aanstellings. Daar word verklaar dat dit nodig is om diskriminasie teen leerders te voorkom, maar dit is blatante oëverblindery, aangesien die bestaande wetgewing voorsiening maak vir die nodige stappe om diskriminasie stop te sit, indien dit sou voorkom.”

Bailey herinner dat die wetsontwerp ook nog deur die Raad van Provinsies aanvaar moet word, voordat dit aan die president vir ondertekening voorgelê kan word.  Eers daarna sal dit geïmplementeer kan word. “Dit is daarom nodig om telkens by hierdie stappe sigbaar standpunt in te neem om te probeer voorkom dat ons na implementering na regsaksie moet oorgaan. Nogtans berei AfriForum wel ook op regsaksie voor. Almal wat oor hierdie wetsontwerp moet besluit, moet besef dat dele van die inhoud ongrondwetlik is en die potensiaal het om onberekenbare skade aan onderrig en onderlinge verhoudinge in die land aan te rig,” sluit sy af.

Soortgelyke plasings