|

AfriForum-buurtwag trek twee veediewe vas

Twee vermeende veediewe van Limpopo het die afgelope naweek hul rieme styfgeloop toe AfriForum se Groblersdal-buurtwag hulle buite dié dorp vasgetrek het.

Dit volg nadat ’n buurtwaglid Sondag, teen omstreeks 17:30, drie verdagtes langs sy grensdraad opgemerk het. By nadere ondersoek kon hy sien dat die verdagtes sakke oor hul skouers dra. Hulle het hom egter opgemerk, hul buit neergegooi en die bos in laat spaander. Die buurtwaglid het dadelik die res van die buurtwag van die voorval in kennis gestel. Hy het ook die sakke deursoek en bevind dat dit gelaai was met vars vleis en messe.

AfriForum se buurtwag het intussen die omliggende paaie en ander toegangsroetes versper en ’n snuffelhond, van die plaaslike veiligheidsmaatskappy WIPS, op die verdagtes se spoor gesit.

Twee verdagtes is kort voor lank opgespoor en deur die buurtwag langs die R25-hoofpad gearresteer. Die verdagtes is aan hul klere uitgeken en daar is bevind dat hul voetspore het met dié wat op die toneel gevind is, ooreengestem. Beide verdagtes se klere was bevlek met die bloed van die bees wat hulle op ’n naburige plaas geslag het.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op Groblersdal is ontbied om die verdagtes na die polisiestasie te neem. Die verdagtes het ook die misdaadtoneel waar die bees geslag is, aan die polisie uitgewys.

“Dit is belangrik dat gemeenskaplede altyd paraat bly en hul tweerigtingradio’s byderhand hou sodat daar – soos in hierdie geval – vinnig opgetree kan word. Die AfriForum-buurtwag se reaksie het spoedig die net om hierdie misdadigers laat styftrek en dit kon derhalwe omgeskakel word in die arrestasie van twee van die drie verdagtes,” verduidelik Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder in Limpopo.

Coenie Meyer, voorsitter van AfriForum se Groblersdal-tak, moedig die gemeenskap aan om by plaaslike veiligheidstrukture soos plaas- en buurtwagte betrokke te raak om tot die bekamping van misdaad in dié gemeenskap by te dra.

(Grafika: Ter illustrasie)

Soortgelyke plasings