Energie-indaba: Innoverende energie-oplossings vir munisipaliteite nou nodig om volhoubare gemeenskappe te bou

Die Afrikaner-Afrika Inisiatief (AAI), wat twaalf Afrikaner-organisasies en leiers verteenwoordig, het met die ondersteuning van die Konrad-Adenauer-Stiftung en AfriForum ’n energie-indaba vir plaaslike owerhede georganiseer. Die AAI het beklemtoon dat gemeenskappe moet saamwerk om innoverende oplossings vir die voortslepende energiekrisis te vind.

Die indaba is deur die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, geopen en het gefokus op die belangrikheid van munisipaliteite om hul energievoorraad te vergroot en te diversifiseer omdat hulle nie net op Eskom kan staatmaak nie.

Die burgemeesters van Mosselbaai, Plettenbergbaai, George en Riversdal in die Wes-Kaap, en Douglas, Springbok, Upington en Kimberley in die Noord-Kaap, asook kundiges uit die energiesektor en belanghebbendes uit die private sektor, het die indaba bygewoon. Die indaba het ’n geleentheid gebied vir nuwe rolspelers in alternatiewe energietegnologieë om innoverende oplossings te bied vir groter sekerheid van energievoorsiening.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het nuwe lig gewerp op Eskom se rol in ’n vinnig veranderende energie-omgewing. Hy het beklemtoon dat Eskom alles moontlik doen om die kragkrisis op te los.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapselfstandigheid by AfriForum, was die meeste sprekers by die indaba se boodskap dat gemeenskappe die geleenthede vir samewerking met pioniers in energie-innovasie in die private sektor moet aangryp.

Chris Opperman, die sameroeper van die AAI, het gesê die deelnemers het ’n reeks opwindende alternatiewe tegnologieë by die indaba bespreek, insluitend kern- en sonkrag-oplossings. Onafhanklike kragprodusente het onontbeerlik geword vir Suid-Afrika se energietoekoms. Gemeenskappe moet egter saamwerk om te verseker dat die politieke wil bestaan om hul belange aan te spreek en nie net die belange van die private sektor nie. “Ons moet verseker dat niemand agterbly nie,” het Opperman beklemtoon.

As die burgemeester van Kaapstad, het Hill-Lewis dit duidelik gemaak dat dié metro reeds ver gevorder het op die pad na groter energie-selfstandigheid deur ooreenkomste met onafhanklike kragprodusente te sluit.

Bydraes deur ander sprekers het suksesverhale uit verskillende wêrelddele ingesluit waar mikronetwerke bestaande uit hibriede oplossings vir hernubare energie groot sukses behaal het asook suksesstories van private energievoorsiening in Suid-Afrika.

André Pienaar, ’n waagkapitalis en stigter van C5 Capital, het ’n belangrike bydrae gelewer deur uit te wei oor sy betrokkenheid by die ontwikkeling van modulêre korrelbed-kerntegnologie. “Dit is duidelik dat kernenergie ’n groot rol kan en moet speel om dorpe en stede in die toekoms energie-onafhanklik te maak,” het Pienaar gesê.

Dr. Theuns Eloff, medevoorsitter van die AAI, het beklemtoon dat ’n wye verskeidenheid rolspelers nou begin saamwerk, iets wat nie voorheen gebeur het nie. Afrikaner-organisasies is gereed om hul deel te doen om die energiekrisis op te los en bied hul kundigheid en tegniese kennis tot voordeel van die land aan. AfriForum en Solidariteit, Neasa, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Saai, Sakeliga, die FAK, die Vryheidstigting en die Afrikanerbond werk saam onder die AAI se vaandel om Suid-Afrika op baie terreine van diens te wees. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ook die rol beklemtoon wat gemeenskappe kan speel om oplossings te vind.

“Die regering is dit aan die land en sy burgers verskuldig om munisipaliteite aan te moedig om alternatiewe energie-oplossings te vind en nie net op Eskom staat te maak nie. Eskom bly ’n belangrike rolspeler, maar gemeenskappe het betroubare energievoorsiening nodig om te floreer en vooruit te gaan. Ons het die antwoorde, maar munisipaliteite sal moet optree en vernuwe om op plaaslike vlak ’n ommekeer op energieterrein te bewerkstellig. Daarom moet ons besef ons moet hande vat met plaaslike gemeenskappe, munisipaliteite, Eskom, en onafhanklike kragprodusente om volhoubare energie-oplossings te vind, en daar moet die wil wees om dit te laat werk,” het Kruger en Opperman afgesluit.

Soortgelyke plasings