|

Vervoerdepartement maak dit onmoontlik om wetsgehoorsaam te wees – AfriForum

AfriForum het vandag in ’n brief aan Fikile Mbalula, die Minister van Vervoer, geëis dat die aanlyn besprekingstelsel oopgestel word sodat die publiek kan aansoek doen vir die uitneem en hernuwing van bestuurslisensies. Die burgerregteorganisasie het ook aangedui dat regstappe gedoen sal word indien die stelsel nie binne ’n redelike tyd oopgestel word nie.

Aansoeke op die aanlyn eNaTIS-stelsel is steeds opgeskort, ten spyte daarvan dat Mbalula reeds op 20 Mei vanjaar aangekondig het dat alle bestuurslisensietoetssentrums, registrasie-owerhede, voertuigtoetsstasies en bestuurskole hul dienste op 1 Junie sal hervat.

AfriForum het ook versoek dat Mbalula moet verduidelik hoe sy departement die agterstand gaan inhaal van mense wat nie tydens die inperking hul lisensies kon hernu nie. Daar word ook duidelikheid versoek oor hoe die departement gaan verseker dat mense nie onregverdig vervolg en benadeel word omdat hulle weens die departement se versuim nie hul bestuurslisensies kon hernu nie. Besprekings vir die hernuwing of uitneem van bestuurslisensies kan in sekere provinsies slegs aanlyn gemaak word.

“Die feit dat die stelsel steeds opgeskort is, beteken dat die Departement van Vervoer dit onmoontlik maak vir baie wetsgehoorsame mense om aan die wet te voldoen. Daarom eis AfriForum dat hierdie stelsel dadelik weer beskikbaar gestel word. Ons wil ook die versekering hê dat mense nie onregverdig benadeel gaan word weens iets wat buite hul beheer is nie,” sê Natasha Venter, bestuurder van Veldtogte by AfriForum.

Volgens Venter kan dié vertraging lei tot ’n bottelnekeffek op ’n stelsel wat reeds agterstallig is. Dit kan ook versekeringsimplikasies inhou vir mense wat in voertuigongelukke betrokke is en nie geldige rybewyse het nie omdat die aanlyn stelsel buite werking is.

Soortgelyke plasings