| |

AfriForum-buurtwagte takel bestryding van verwoestende Laeveldse brande, meer as 1 000 hektaar reeds vernietig

AfriForum se buurtwagte in Witrivier, Machadodorp en Mbombela (Nelspruit) beveg sedert die naweek konstant die verwoestende brande wat reeds nagenoeg 1 000 hektaar se plantasies en makadamiaboorde in dié gebied vernietig het. AfriForum-buurtwagte hanteer brandbestryding van die nege groot brande wat sedert Vrydag (5 Julie) in die gebied ontstaan het in samewerking met plaaslike nooddienste, LEFPA (die Lowveld and Escarpment Fire Protection Association) en gemeenskapslede.

Arlo van Heerden, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mpumalanga Laeveld, benadruk dat die grootte van die grondgebied wat in die afgelope vyf dae in die Laeveld afgebrand het, in vergelyking met veldbrande wat elders in die land aangeteken word, min mag klink. “Dit is egter belangrik om te besef dat die Laeveldse brande wat tot dusver aangeteken is, geweldige finansiële verliese vir die bosbou inhou,” verduidelik hy. “Intussen woed die brande steeds plek-plek voort en werk die brandspanne steeds onverpoos om die bedreiging wat die brande vir die omliggende gemeenskappe, boerderye en plantasies inhou, te beperk.”

AfriForum se buurtwagte, wat bestaan uit opgeleide vrywilligers uit die gemeenskap, span sogenaamde “bakkiesakkies”, oftewel mobiele brandblussingseenhede wat op bakkies gemonteer word, in om brandbestryding mee te doen.

Volgens Theo Bezuidenhout, AfriForum se Witrivier-takvoorsitter, is die volgehoue samewerking tussen die verskillende buurtwaglede en gemeenskapslede van kardinale belang om die brande in die Witrivier-omgewing onder beheer te bring. “Ons is dankbaar vir die ondersteuning en samewerking wat ons tot dusver van die gemeenskap en ander nooddienste ontvang het,” sê Bezuidenhout.

Volgens Henrico Duvenhage, AfriForum se Machadodorp-takvoorsitter, het dié tak reeds die afgelope vyf dae ook bontgestaan om vure in dié gebied onder beheer te bring. “Die brande was in ’n stadium so erg dat die digte rook tot die tydelike sluiting van die N4 gelei het,” verduidelik Duvenhage. “Vinnige optrede deur die buurtwag en ander plaaslike rolspelers het egter verseker dat die brande gou onder beheer gebring kon word en die verkeer op die N4 weer vryelik kon vloei.”

AfriForum bedank alle vrywilligers, nooddienste en lede van die gemeenskap wat saamspan om dié brande te beveg. “Dit is in tye soos dié wat ons besef hoe belangrik gemeenskapsamewerking is,” het Duvenhage bygevoeg.

Van Heerden het AfriForum se buurtwagte in die Laeveld vir hul toegewydheid aan veiligheid en die welstand van die gemeenskap geprys en AfriForum se verbintenis tot die voortsetting van steun gedurende die brandseisoen herbevestig. Hy versoek ook die gemeenskap om nie gedurende die droë maande oop vure te maak nie en enige brande by LEFPA aan te meld.

Bly só veilig tydens ’n veldbrand

Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, bied die volgende raad rakende veiligheid tydens veldbrande:

  • Jou veiligheid eerste. Onthou, veiligheid is altyd die topprioriteit tydens ’n veldbrand. Bly kalm en tref gepaste voorsorgmaatreëls.
  • Elke eienaar moet ’n redelike poging aanwend om te probeer voorkom dat die brand na die bure versprei.
  • Meld die veldbrand so gou moontlik aan by die nooddienste, brandbeskermingsvereniging en bure.
  • Kommunikasie: Wees altyd bewus van wat die brand doen. Dit kan gedoen word deur middel van jou plaaslike tweerigting-radiostelsel of ander sosialemediagroepe.
  • Diere: Maak seker dat jou diere veilig is.
  • Bly in die swart: Tydens brandbestryding moet jy altyd in die swart (dele wat reeds gebrand het) bly om veilig te wees.
  • As jy vasgekeer is: Gebruik jou kommunikasiestelsel om mense te laat weet wat gebeur, en meld jou ligging. As dit moontlik is, gebruik ’n lig om mense te help om jou te kry.
  • Gebruik ’n N95-masker om deeltjies te verwyder uit die lug wat jy inasem.
  • Bly gehidreer: Drink baie water of isotoniese koeldrank om gehidreer te bly en jou liggaam te help om die hitte die hoof te bied.

Soortgelyke plasings