|

AfriForum se Bethal-tak woeker met #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Bethal het gedurende Augustus verskeie projekte as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek van stapel gestuur.

Die tak het saam met die Bethal-gemeenskap gewerk om slaggate in Blesbok- en Gemsbokstraat te vul. Die projek het meer as twee weke geneem en daar is meer as R20 000 aan die projek spandeer.

Verder het die tak se groentetuinprojek nóg ’n oes opgelewer en 40 kg spinasie is aan die inwoners van ’n tehuis in Morgenzon geskenk.

Daar is ook twee bakkievragte nartjies en ander sitrusvrugte onder verskeie skole, tehuise sowel as die Bethal-sopkombuis versprei. Hierdie skenkings is van boere in die Laeveld ontvang.

Die Bethal-tak het ook gehelp om te verseker dat daar water, tydens Randwater se onlangse herstelwerk aan ’n waterpyplyn, by die Silwerjare-ouetehuis beskikbaar was. Daar was vir meer as 48 uur ’n risiko van watertekorte gewees.

“Ons is dankbaar dat ons die gemeenskap op soveel verskeie maniere kan bystaan en sal aanhou om die gemeenskap te ondersteun,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Sluit vandag aan by AfriForum se Bethal-tak: SMS “Bethal” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings