|

AfriForum doen voorlegging oor BELA-wetsontwerp op laaste dag van openbare raadplegingsessies

AfriForum het vandag ’n mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) in Kaapstad gelewer op die laaste dag waarop die publiek die geleentheid het om aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se openbare verhore hieroor deel te neem.

Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys, het die voorlegging gedoen in aansluiting by uitgebreide skriftelike kommentaar wat reeds in Maart vanjaar by die onderwysverteenwoordiger van die Wes-Kaapse regering ingedien is. Sy noem dat die oorweldigende openbare deelname aan vanmiddag se raadplegingsessie bewys hoe sterk ouers oor direkte betrokkenheid by hulle kinders se skoolloopbane voel.

In haar aanbieding het Müller opnuut beklemtoon dat die wetsontwerp nie daadwerklike oplossings vir probleme in die onderwysstelsel, byvoorbeeld die gebrek aan moedertaalonderrig, oorvol skole en gevolglike hoë uitvalkoerse van leerders, bied nie. Dit gaan inteendeel juis die knelpunte vererger omdat die konsepwet voorstel dat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleide voortaan in die hande van die provinsiale onderwyshoofde moet berus.

Sy het ook uitgebrei oor AfriForum se standpunt dat hierdie wysigings wat in die wetsontwerp voorgestel word, ongrondwetlik is. Die organisasie hou vol dat die toenemende sentralisering van mag in die hande van die staat en die gevolglike ontmagtiging van skole se beheerliggame rampspoedige gevolge vir onderwys in die land kan beteken.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake, is AfriForum van mening dat die wetsontwerp as geheel verwerp moet word en dat ’n nuwe wysigingswetsontwerp opgestel moet word. Dit moet nie net grondwetlik belyn en regverdig wees nie, maar ook die nuutste tegnologiese ontwikkelings en onderwysmetodes in ag neem.

“Indien die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp egter sonder betekenisvolle wysigings aanvaar en dit na die president vir ondertekening verwys, is AfriForum gereed om dit met regstappe teen te staan,” voeg Bailey by.

Enigeen wat die regsproses wil ondersteun, kan hulle mandaat daarvoor aan AfriForum gee by stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings