| |

AfriForum diep besorg oor beplande naamsveranderinge van vier Oos-Kaapse dorpe

AfriForum en ander belanghebbendes, insluitende inwoners, politieke partye en ander instansies, is die harnas in nadat die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur onlangs ’n voorgestel gemaak het dat die name van vier dorpe in dié provinsie verander moet word.

Die voorstel is dat Graaff-Reinet se naam verander na Robert Sobukwe of Fred Hufkie; Adendorp na Kwa Mseki Bishop Limba; Aberdeen na Camdeboo; en Nieu-Bethesda na Kwa Noheleni.

Hierdie voorgestelde veranderinge het reeds wye reaksie uitgelok. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, voer aan dat die voorgestelde herbenoeming van hierdie vier historiese dorpe ’n ongeregverdigde besteding van belastingbetalers se geld sal wees en dat dit nie noodsaaklik is om so iets te doen nie omdat geen van die huidige name enige aanstoot gee nie.

“Hierdie dorpe hou beduidende historiese waarde in en ons beoog om die herbenoemingsproses noukeurig te monitor en ’n aktiewe rol te speel om dit te voorkom. Hierdie gebiede is diepgewortelde boerderygemeenskappe met ’n ryke erfenis en geskiedenis, wat die besluit om hul name te verander selfs meer onsensitief en seer maak vir die mense wat hierdie dorpe al generasies lank koester,” sê Kriel.

“Gegewe die finansiële beperkings wat klein dorpies soos hierdie reeds ondervind, is die potensiële gevolge vir toerisme aansienlik en sal AfriForum nie huiwer om regstappe te doen indien nodig nie,” sluit Kriel af.

AfriForum is van plan om deel te neem aan die openbare vergaderings en beswaar teen die beplande naamsveranderinge aan te teken. Daarbenewens oorweeg die organisasie ook om petisies op te stel om die naamsveranderinge te probeer verhoed. Indien die name steeds verander, oorweeg AfriForum om ná die tyd ’n hersieningsaansoek in te dien as prosesse nie gevolg is nie, of as dit mag blyk dat enige onreëlmatighede plaasgevind het.

Persone wat ontevrede is met die beoogde naamsveranderinge, kan hul name hier byvoeg om aan AfriForum hul mandaat te gee. Dit is egter steeds belangrik om ook self aan die openbaredeelnameproses deel te neem en sodoende te verseker dat elke individu se teenkanting aangeteken word.

Feite oor die name en ontstaan van Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Aberdeen en Adendorp:

  • Graaff-Reinet, die vierde oudste dorp in Suid-Afrika, het reeds in 1786 tot stand gekom en is vernoem na die destydse Kaapse goewerneur Cornelis Jacob van de Graaff en sy vrou, Reynet.
  • Nieu-Bethesda, wat nagenoeg 40 km noord van Graaff-Reinet lê, dra sedert 1875 dié Bybelse naam en is ontleen aan die bad genaamd Betesda waaroor geskryf is in Johannes 5:2.
  • Die dorp Aberdeen, vernoem na die Skotse geboortedorp van Graaff-Reinet se predikant ds. Andrew Murray, het in 1855 rondom die nuwe gemeente tot stand gekom.
  • Adendorp, net suid van Graaff-Reinet, het in 1878 tot stand gekom en is vernoem na N.J. Adendorff wat die plaas sedert 1855 besit het.  

(Foto: Wikimedia Commons, South African Tourism)

Soortgelyke plasings