|

Departement se swak beplanning kniehalter gehalte-onderrig

Die eerste dag van die nuwe skooljaar het vir baie skole, ouers en leerders in veral Gauteng vir hoofbrekens gesorg. Heelwat leerders is laat geregistreer vir die nuwe skooljaar en boonop is daar nie genoeg kapasiteit in sommige skole nie.

Die Departement van Basiese Onderwys het laerskole in die Kempton Park-omgewing verlede week – enkele dae voordat die skole moes open – ingelig dat mobiele klaskamers op hul terreine opgerig gaan word om voorsiening te maak vir gr. 8’s van Hoërskool Birchleigh wat nie al die leerders kan akkommodeer nie.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het vroeër die week gesê dit is prakties onmoontlik vir laerskole om gr. 8-leerders by bestaande skoolroosters in te pas. Volgens haar is die besluit om dié “oplossing” op skole af te dwing sonder om die beskikbaarheid van onderwysers, hulpbronne en geriewe in ag te neem, onaanvaarbaar.

“Hoërskool Birchleigh se probleem is veral teleurstellend aangesien die skool ’n hoër- en ’n laerskool bedien, en die departement dus vanaf dié leerders se gr. 1-jaar van die verwagte leerdergetal vir 2024 bewus moes wees,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit.

Ongeveer 120 000 leerders was met die aanvang van die nuwe skooljaar nog nie in skole geplaas nie en dit is alombekend dat die aanlyn skoleregistrasieplatform vir heelwat probleme sorg. Angie Motshekga, minister van Basiese Onderwys, het ouers gister versoek om hulle 10 dae te gun om hierdie leerders by skole te plaas.

Volgens Johnell Prinsloo, beleidsontleder en navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kniehalter die departement se onvermoë om hulle mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) uit te voer, en hulle onvermoë om te beplan, gehalte-onderrig.

In ’n parlementêre vraag in 2023 het Motshekga skriftelik geantwoord dat daar 24 871 skole in Suid-Afrika is. Alan Winde het vandeesweek aan die media gesê daar is ongeveer 1,2 miljoen leerders in Wes-Kaapse skole. Indien die departement dan weet hoeveel skole daar in die land is en met gr. 1- en gr. 8-leerders wat jaarliks moet registreer by hul onderskeie skole, weet die departement tog vir hoeveel leerders daar voorsiening gemaak moet word. Hulle het dus die nodige inligting om te verseker dat daar genoeg plek in skole is vir die hoeveelheid leerders.

Solidariteit is ook van mening dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp), indien dit van krag word, reeds bestaande probleme net kan vererger. Dit sal aan owerhede wat nie eens die vermoë het om leerderplasings te beheer nie, selfs groter magte ten opsigte van skolebestuur gee, meen dié vakbond.

Die spertyd vir die publiek om opnuut skriftelike kommentaar teen die Bela-wet in te dien is tot 31 Januarie 2024 uitgestel. Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, bestee beheerliggame jaarliks miljoene rande om ekstra poste in skole te skep sodat kinders nie in oorvol klaskamers beland nie. “Indien die huidige weergawe van die wetsontwerp aanvaar word, sal ouers hierdie finale besluitnemingsmagte verloor en kinders sal nog meer uitgelewer wees aan die politieke magspeletjies en administratiewe wanbestuur van die owerhede,” sê Bailey.

Motshekga en haar departement kan beslis uit vanjaar en vorige jare se uitdagings leer. Indien hulle ook eerder die tyd, energie en geld wat aan die Bela-wet bestee word, gebruik vir beplanning en instandhouding, kan heelwat nuwe skole gebou of bykomende kapasiteit by sommige skole geskep word.

Soortgelyke plasings