|

AfriForum dra R30 000 by tot laerskole in Rustenburg

AfriForum se Rustenburg-tak was die hoofborg van ’n suksesvolle fondsinsameling vir laerskole in Rustenburg. Gemeenskapslede kon deur finansiële skenkings hul posisie in ’n fietsrenkompetisie wat op 12 September 2020 by Laerskool Rustenburg plaasgevind het, verseker. Die gemeenskapslede het deel gevorm van die onderskeie skole se spanne, naamlik Laerskool Rustenburg, Laerskool Proteapark en Laerskool David Brink.

Die spanne het prysgeld gewen op grond van die tyd wat dit hul geneem het om ’n afstand van 1 099 km af te lê. AfriForum se totale bydrae tot dié projek (wat deel vorm van Solidariteit se Trapsaam-inisiatief) is R30 000.

“Dit is vir ons uiters belangrik om die skole in Rustenburg te ondersteun ná die negatiewe finansiële gevolge van die inperking. Dié kinders is die toekoms van ons gemeenskappe en dit is van kardinale belang dat hul steeds toegang tot gehalte onderwys het. Daarom het het ons besluit om R3 000 te borg vir die skool wat eerste eindig en R2 000 vir die tweede skool. Ons het ook R5 000 geborg om voorsiening te maak vir die uitgawes van die dag,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“AfriForum se Rustenburg-tak het ook na afloop van die kompetisie ’n werwingsprojek van stapel gestuur en die skool wat die meeste AfriForum-lede teen einde November werf, sal ’n verdere R20 000 ontvang om die nood te help verlig,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by dié inisiatief betrokke te raak sodat soortgelyke projekte aangepak kan word om ’n verskil te maak. Raak betrokke by dié inisiatief. SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of bel vir Chris Trytsman by 082 469 2221 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings