AfriForum dra by vir DBV se voortbestaan in Phalaborwa


AfriForum se Phalaborwa-tak het in samewerking met ander rolspelers in die gemeenskap op 30 September vanjaar ’n “Walk a dog”-dag gehou waar R4 000 ingesamel is vir die voortbestaan van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Phalaborwa.
Dit is by Wildevy-park aangebied – mense kon hul honde inskryf vir ’n aantal kompetisies en ’n pretloop is gehou. Hondekos en -speelgoed is ook geskenk en aan die DBV oorhandig.
Die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit het die aksie ondersteun deur die tafels en stoele vir die dag te verskaf.

Saartjie Matthysen, voorsitter van die AfriForum-tak in Phalaborwa, sê dat die dag ’n reusesukses was en dat hulle dit graag ’n jaarlike instelling wil maak. “Dit is ons plig as ’n gemeenskap om te sorg vir die onderhoud en voortbestaan van die DBV en aksies soos hierdie maak dit moontlik.”

AfriForum se Phalaborwa-tak beoog om Wildevy-park deur die loop van die jaar skoon, netjies en veilig te maak sodat die gemeenskap meer gereeld van die geriewe gebruik kan maak.

Soortgelyke plasings