AfriForum dwing Tshwane-metro na onderhandelingstafel


Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag by die dringende hof met die Tshwane-metro vergader oor die verhoogde elektrisiteitstarief wat die metro sonder die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedkeuring geïmplementeer het. Dit volg nadat senior bestuur van die metro die organisasie uitgenooi het om voor die dringende hofaansoek bymekaar te kom.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof vir plaaslikeregeringsake, is dit belangrik om kennis te neem dat die metro vir AfriForum gevra het om voorstelle aan die tarief te maak, veral oor die strukturele verandering.

“Die metro het aan AfriForum bevestig dat ’n regstelling gemaak gaan word op enige persoon se rekening wat verkeerdelik gehef word. Daar is ook opdrag gegee dat gewone verbruikers nie rekeninge sal ontvang voordat die dispuut oor die geïmplementeerde elektrisiteitstarief uitgeklaar is nie.”

Mostert voeg by dat AfriForum die saak steeds as ’n prioriteit beskou en sal voortgaan om die saak te beveg indien ’n billike elektrisiteitstariefverhoging, wat aan die nodige prosesse en goedkeuring vanaf Nersa voldoen, nie op die tafel geplaas word nie.

“Ons ag hierdie saak steeds dringend en sal druk op die metro plaas om ons lede se regte te beskerm.”

Soortgelyke plasings