AfriForum eis afskaffing van regering se kwarantynkampplanne

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in ’n skrywe aan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, geëis dat die nuwe isolasieregulasies wat poog om mense in kwarantynkampe te dwing, geskrap word.

Volgens nuwe regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, mag geen persoon wat deur ’n laboratoriumtoets as COVID-19 positief aangedui word, weier om in ’n gesondheidsfasiliteit opgeneem te word vir isolasie of behandeling nie. Dus sal niemand toegelaat word om tuis te isoleer nie.

Volgens AfriForum is dit baie vreemd dat die minister nou weer so ’n regulasie wil in stel, siende dat die hof reeds in die verlede teen die minister uitspraak gelewer het in ’n soortgelyke geval.

AfriForum het in Junie 2020 ’n oorwinning in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria behaal toe Regter J. W. Louwdie organisasie se dringende aansoek toegestaan het om die minister se kwarantynregulasies (wat toe ook selfisolasie verbied het) ongeldig te laat verklaar. Dié regulasies, wat volgens AfriForum irrasioneel en drakonies is, was daarop gemik om almal wat positief toets vir COVID-19 onder verpligte staatskwarantyn te plaas.

Die minister het toegegee dat AfriForum se aansoek ’n bevel van die hof gemaak word wat bepaal dat die regulasies só gelees moet word dat persone wat doeltreffend kan selfisoleer, toegelaat moet word om dit te doen.

“Dit is onverstaanbaar waarom die minister nou weereens to ’n drakoniese maatreël sal wil instel, siende dat die hof reeds bevind het dat mense wat veilig tuis kan self-isoleer, dit mag doen. As die minister versuim om hierdie wysigings aan te pas sal ons dit beslis weer in die hof bestry,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

AfriForum het die minister tot Vrydag gegee om die regulasie te wysig.

Soortgelyke plasings