Nominasies vir Die Gelofte: ’n Musiekblyspel stroom in

Op 27 Maart het teaterliefhebbers Wêreldteaterdag gevier. Dié dag is op ’n hoogtepunt afgesluit toe die Naledi-teatertoekennings vir 2022 bekend gemaak is. Nominasie vir Die Gelofte: ’n Musiekblyspel was oorheersend met tien nominasies in verskeie kategorieë. Die Gelofte is in 2022 by AfriForum Teater aangebied oor ’n speelvak van ses weke.

Dié musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied is. Musiek en lirieke is deur Johan Vorster en Jacomien de Villiers behartig met Francois Lessing aan die stuur van orkestrasie terwyl die teks en regie deur Jannes Erasmus hanteer is. Hierdie uitnemende span is ook vir die 2023 musiekblyspel, Die Kaplyn verantwoordelik wat vanaf 26 April by AfriForum Teater op die planke sal wees.

Die Gelofte het vir duisende mense wat dit kom kyk het ongelooflik baie beteken. Teater het die vermoë om grense te verskuif of selfs oor te steek. Ek en Jacomien is dankbaar vir die lang lys nominasies wat Die Gelofte by vanjaar se Naledi-teatertoekennings ontvang het. Ons is vasberade om Die Kaplyn-musiekblyspel op dieselfde hoë standaard saam met AfriForum en AfriForum Teater in April vanjaar bekend te stel,” sê Vorster.

“Hierdie nominasies gee erkenning aan die feit dat Die Gelofte ’n uitstekende musiekblyspel is en dat diegene wat betrokke was hul puik van hulle taak gekwyt het. Dit is bevredigend om te weet dat AfriForum deur AfriForum Teater ’n platform vir uitnemende kuns in Afrikaans bied,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

AfriForum Teater is trots daarop om dié tuiskomplek te wees vir produksies wat deur Naledi- teatertoekennings erken word. “Dit is ’n ongelooflike prestasie om in soveel kategorieë genomineer te wees. Ons is dankbaar dat AfriForum, AfriForum Teater en Inhoud Huis Musiek hande kon vat om hierdie ongelooflike musiekblyspel ’n werklikheid te maak. Ons beskou dit as nog ’n hoogtepunt op die kerfstok van Die Gelofte,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater.

Die nominasies:

  • Beste deurbraakoptrede: Jordan Human vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste oorspronklike komposisie en/of musiekverwerking: Johan Vorster en Jacomien de Wet vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste musiekregisseur: Francois Lessing vir Die Gelofte (AfriForum Teater)
  • Beste klankontwerp: Pieter-Louis van Twisk vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste regisseur van ’n musiekteaterproduksie: Jannes Erasmus vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste ondersteunende vertolking in ’n musiekteaterproduksie (vroulik): Zoricke Snyman vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste ondersteunende vertolking in ’n musiekteaterproduksie (manlik): Eddie de Jager vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie (vroulik): Bernice West vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie (manlik): Johan Vorster vir Die Gelofte (AfriForum Teater).
  • Beste musiekblyspel- of musiekteaterproduksie: Die Gelofte (AfriForum Teater).

Vir ’n volledige lys van die genomineerdes besoek gerus https://shortest.link/m5kN.

Kaartjies vir Die Kaplyn: ’n musiekblyspel is op www.diekaplyn.com beskikbaar.

Soortgelyke plasings