|

AfriForum eis antwoorde oor bedreiging van Suid-Afrika se Wêrelderfenisgebiede

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis antwoorde van onder meer die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit oor die toestand van onderskeidelik die Vredefortkoepel- en die Wieg van die Mensdom-wêrelderfenisgebiede. Tans word dié terreine sodanig verwaarloos dat hulle moontlik hulle wêrelderfenisstatus kan verloor.

Die Vaalrivier – wat deur die Vredefortkoepel-wêrelderfenisgebied vloei – gaan gebuk onder rioolbesoedeling, omdat verskeie wanfunksionele rioolafvalwatersuiweringswerke in dorpe stroomop van die Vredefortkoepel onverwerkte riool in dié rivier in stort. Dit hou groot gevare vir natuurlike waterhulpbronne en mense se gesondheid in.

Die Wieg van die Mensdom word ook deur rioolbesoedeling bedreig. Onlangse mediaberigte het die kollig op die wanfunksionele Percy Stewert-watersuiweringswerke in Krugersdorp geplaas, waar rou riool in die Blougatspruit gestort word. Die Blougatspruit is ’n sytak van die Bloubankspruit wat deur die Wieg van die Mensdom vloei.

In terme van die Wêrelderfeniskonvensie – wat in 1972 deur UNESCO in die lewe geroep is om plekke met buitengewone en universele natuurlike- of kulturele waarde te beskerm – het lande wat dié konvensie onderteken het, die plig om terreine met formele wêrelderfenisstatus te bestuur en beskerm. Die gesogte wêrelderfenisstatus is nog net aan tien terreine in Suid-Afrika toegeken, wat die uniekheid en onvervangbare waarde van hierdie terreine bewys. Dit moet met trots aan die internasionale gemeenskap ten toon gestel kan word en kan toerisme en ekonomiese ontwikkeling bevorder. Die status hou selfs die moontlikheid van internasionale befondsing in, maar dit alles is onderhewig aan die behoorlike bestuur daarvan deur die betrokke owerhede. Die Wêrelderfeniskomitee het al in 2005 kommer oor die risiko van rioolbesoedeling vir die Vredefortkoepel uitgespreek en waarsku minstens sedert 2015 ook soortgelyk oor die Wieg van die Mensdom.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, illustreer die bedreiging van hierdie terreine die makro-skaal van die verval van waterinfrastruktuur en gepaardgaande verlies van die integriteit van natuurlike waterhulpbronne in die land. “Waar wêrelderfenisstatus ’n internasionale vertoonvenster behoort te wees van verantwoordelike en doeltreffende bewaring, plaas dit nou egter die internasionale kollig op swak bestuur, gebrekkige dienslewering, swak samewerking tussen verskillende regeringsfere en die gebrek aan verantwoordbaarheid wanneer amptenare versuim om hul verpligtinge uit te voer,” sê De Vaal.

AfriForum het reeds skrywes aan die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake sowel as die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig om antwoorde oor die instandhouding van die terreine en die rioolbesoedeling oor die algemeen te eis. Indien daar gevind word dat die regering nie aan sy verpligtinge voldoen nie, moet dit aan die kaak gestel word.

“Munisipaliteite moet dringend na oplossings begin kyk om Suid-Afrika se sanitasiedienslewering op ’n aanvaarbare standaard te kry. AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons unieke natuurlike- en kulturele erfenis vir toekomstige generasies bewaar word,” voeg De Vaal by.

Soortgelyke plasings