|

AfriForum maak korte mette met vullisverwydering

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 8 Augustus aangebied om die Tshwane-metro uit te help met die voortslepende krisis met vullisverwydering wat tans aan die gang is. Dit volg nadat die volgehoue staking inwoners moedeloos laat.

AfriForum se Garsfontein-tak wat, Faerie Glen insluit, is deur Betsie Basson, die wyksraadslid vir Wyk 45, gekontak om met hierdie vulliskrisis te help. Verskeie areas in die gemeenskap se vullis is meer as vier weke laas verwyder.

Terwyl die Tshwane-metro probeer om dienslewering voort te sit, maak stakende werkers van die munisipalewerkersvakbond SAMWU dit amper onmoontlik. Die staking is ’n reaksie op die metroraad se besluit om nie salarisverhogings in sy 2023-‘24-begroting in te sluit nie en het reeds tot die ontslag van bykans 100 werkers gelei.

“AfriForum verstaan dat die onwettige staking enorme druk plaas op die Tshwane-metro se diensleweringsvermoë, daarom het die Garsfontein-tak besluit om raadslid Basson en die breër gemeenskap te help,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Dié tak het na die oorweging van verskeie moontlikhede besluit om ’n private maatskappy te gebruik om die vullisverwydering te behartig en verligting in die betrokke area te bring.

“Hierdie inisiatief is slegs ’n tydlike oplossing, maar AfriForum-strukture in die Tshwane-metro sal met ander rolspelers saamwerk om oplossings te vind om gemeenskappe binne ons vermoë te help. Ek wil ook graag Forum Sekuriteit  en Golan Tactical bedank dat hulle vandag seker gemaak het dat almal veilig is,” sluit Ungerer af.

“Ek wil graag hierdie geleentheid gebruik om AfriForum se Garsfontein-tak te bedank vir hulle ondersteuning en dat hulle tydens hierdie buitengewone tye sonder huiwering ingestem het om die gemeenskap tegemoet te kom. Dit is goed om te weet dat ons kan saamwerk om verandering te bring tot voordeel van ons gemeenskappe,” sê Basson.

AfriForum se Garsfontein-tak moedig die publiek aan om betrokke te raak en ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan Dewet Ungerer by dewet.ungerer@afriforum.co.za met die verwysing “Garsfontein” of volg dié tak se Facebook-blad.

Soortgelyke plasings