|

AfriForum en ander rolspelers beraadslaag oor NGV-regsgedinge by gesamentlike krisisberaad

AfriForum staan steeds gereed om ’n unieke bydrae te lewer tot die regstryd teen Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), is die boodskap van dié organisasie by die afgelope NGV-krisisberaad georganiseer deur Solidariteit. Die beraad is bygewoon deur verteenwoordigers van menige organisasies en opposisiepartye, waaronder die Vryemarkstigting, Sakeliga, die Instituut vir Rasseverhuodinge (IRV), die Vryheidsfront Plus (VF+), ActionSA en die African Christian Democratic Party (ACDP). Bydraes van die verskeie organisasies het laat blyk hoe groot en vasbeslote die opposisie teen NGV is en dat daar ywer is vir samewerking tussen die partye.

Die beraad het plaasgevind op ’n kritieke tydstip minder as twee weke nadat NGV bekragtig is as wet en enkele dae voor die algemene verkiesing. Verskeie aspekte van die regstryd teen NGV is bespreek, waaronder die moontlikheid van ’n Grondwet artikel 80-aansoek deur opposisielede van die opkomende nasionale vergadering, die rol van aansoeke en aksieprosesse, en die verskillende substantiewe en prosedurele besware teen NGV.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, het die organisasie se standpunt gestel en het gemaan dat opposisiepartye en organisasies ’n lang regstryd te wagte moet wees en om eerder die uitgerekte aard van sulke hofgedinge tot hul voordeel aan te wend. “Vir elke bykomende dag wat ’n hangende hofgeding verhinder dat NGV geïmplementeer word, is daar een dag minder vernietiging van die ekonomie en gesondheidstelsel, en een dag meer om openbare druk teen NGV op te bou.”

Die beraad het op ’n positiewe noot afgesluit met talle rolspelers wat saamgestem het dat daar oorgenoeg bewyse is dat NGV ongrondwetlik is en algehele optimisme wat geheers het dat die skadelike wet tersyde gestel sal word.

Soortgelyke plasings