|

AfriForum loods landswye #skoonwaterprojek

AfriForum het op 26 Julie dié organisasie se tiende jaarlikse #skoonwaterprojek in Bela-Bela geloods deur ’n monster van munisipale drinkwater by die Laerskool Warmbad se koshuis en ’n monster van verwerkte rioolwater by die dorp se rioolwaterbehandelingswerke te toets. Die #skoonwaterprojek mobiliseer aktiewe AfriForum-takke regoor die land om drink- en rioolwatergehalte gedurende Augustus te toets. 

“Die cholerauitbreking vroeër vanjaar het die kollig geplaas op die regering se mislukking om daadwerklik op te tree om die uiters swak toestand van Suid-Afrika se natuurlike waterhulpbronne en die verval van waterinfrastruktuur regoor die land te takel. Omdat miljoene liters rou riool weens die swak toestand en onvoldoende onvermoë van rioolwaterbehandelingswerke in riviere gestort word, word die ideale toestande vir die verspreiding van wateroordraagbare siektes soos cholera geskep. Die einste riviere waarin riool gestort word, is die bron van drinkwater vir miljoene mense landwyd, maar omdat drinkwaterstelsels ook in ’n swak tot kritieke toestand is, word die gesondheid van Suid-Afrikaners ernstig bedreig,” waarsku Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Dít is feite wat deur die publikasie van die Departement van Water en Sanitasie se eie interim Blou- en Groendruppelverslae vir 2023 aangedui word. Altesaam 51% van drinkwaterstelsels het ’n swak of slegte mikrobiologiese watergehaltestatus behaal; 71% voldoen nie aan die standaarde vir chemiese samestelling van drinkwater nie; en 334 munisipale rioolwaterbehandelingswerke is in 2022 tot ’n kritieke toestand verklaar. “Ons kan nie langer op die regering staatmaak om veilige drinkwater te verskaf nie en daarom toets ons die watergehalte self,” voeg Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum, by.

Met hierdie #skoonwaterprojek gaan AfriForum as burgerregtewaghond in 2023 weereens ’n belangrike moniteringsfunksie vervul deur te verseker dat die gehalte van bykans 150 dorpe se drink- en rioolwater getoets word. Die uitslae van hierdie toetse sal bekendgemaak word. “Indien ons toetse aandui dat daar nie aan die voorgeskrewe standaarde voldoen word nie, sal AfriForum verseker dat gemeenskappe onmiddellik van enige gevare in kennis gestel word en die betrokke munisipaliteit gewaarsku word om die probleme so gou as moontlik op te los,” sê De Vaal.

Soortgelyke plasings