|

AfriForum help om selfoondief vas te trek

AfriForum se Brits-buurtwag het op 1 Februarie in samewerking met SECRA Fencing and Security ’n verdagte vasgetrek wat ’n selfoon by ’n onderneming in die dorp gesteel het. Die buurtwag het om 09:35 inligting van die voorval in Harringtonstraat ontvang.

Die buurtwag-reaksielede en SECRA het dadelik gereageer nadat die foon se bewegings nagespeur is. Die area is gefynkam en die verdagte is uiteindelik in Tomstraat vasgetrek nadat hy deur middel van kringtelevisiebeeldmateriaal by die onderneming waar hy die selfoon gesteel het, uitgeken is. Die verdagte het erken dat hy die selfoon gesteel het en het die lede na die ligging geneem waar hy die foon verkoop het, waarna dit aan die eienaar terugbesorg is.

“Goeie kommunikasie en samewerking met die veiligheidsmaatskappy het gelei tot vinnige reaksie en dus kon die misdadiger spoedig vasgetrek word,” sê Johan de Klerk, leier van die Brits-buurtwag.

Die verdagte is aan die Brits-SAPD oorhandig en ’n saak is geopen. Die Brits-buurtwag bedank almal wat betrokke was met die suksesvolle arrestasie.

Skakel Johan de Klerk op 082 415 0987 vir navrae of om betrokke te raak by die Brits-buurtwag.

Soortgelyke plasings