|

AfriForum-takke rig aanmaning aan Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit

AfriForum se Kempton Park- en Springs-tak het op 2 Februarie hul regspan opdrag gegee om ’n brief aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te oorhandig om die munisipaliteit aan te maan om die swak dienslewering van vullisverwydering op te los.

Dit volg nadat die gebrek aan vullisverwydering en oordragstasies wat nie onderhou, of skoongemaak word nie tot frustrasie in gemeenskappe gelei het.

“Dis onaanvaarbaar dat ons as belastingbetalers vir ons basiese menseregte en dienste moet baklei. Die owerhede is juis daar om die Grondwet te handhaaf deur ons regte te beskerm en basiese dienste, waarvoor ons betaal, te lewer. Ons dring aan dat die munisipaliteit ’n werkbare en volhoubare plan uiteensit en aan ons beskikbaarstel oor hoe hulle dié gebrek aan vullisverwydering gaan hanteer,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum sal verdere regstappe oorweeg indien die munisipaliteit nie voortgaan en sy wetlike verpligtinge nakom nie.

“Buiten huishoudings se vullisdromme wat oorloop en die gesondheidsrisiko’s wat die gemeenskap daagliks in die gesig staar, word die onwettige storting van vullis ’n tendens,” sluit Ferreira af.

Om betrokke te raak, of om aan te sluit: SMS “Kempton Park”, of “Springs“ na 45340 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings