|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek op plaaslike en nasionale vlak op verskeie gebiede toegetree. Die organisasie het antwoorde by die Departement van Toerisme geëis oor ’n beplande borgskap van £42,5 miljoen aan die Engelse sokkerklub Tottenham Hotspur. AfriForum is van mening dat hierdie geld eerder op eie bodem aangewend moet word om sport te bevorder.

’n Versoek is ook aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake gerig om AfriForum deel van die nasionale rampbestuur se adviesforum te maak indien pres. Cyril Ramaphosa die huidige kragkrisis tot nasionale ramp verklaar.

Julius Malema, leier van die EFF, het ook weer saam met Adriaan Snyman in die streekhof in Oos-Londen verskyn oor die beweerde afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare gebied. AfriForum het hierdie klagtes reeds in 2018 aanhangig gemaak. Die saak hervat weer in September.

AfriForum se Brits-buurtwag en SECRA Fencing and Security het ’n verdagte vasgetrek wat glo ’n selfoon by ’n onderneming op die dorp gesteel het.

Die AfriForum-tak in Delareyville het vanjaar reeds meer as 119 sakke teer aan gemeenskapslede gegee sodat slaggate gevul kan word. Die Vryburg-tak het die konsentrasiekamp skoongemaak deur die gras te sny en onkruid te verwyder. Die tak het ook onderneem om dié area te onderhou. Die buurtwag in Vryburg het hulp verleen aan die SAPD nadat ’n vragmotor afgetrek en deursoek is. Beslag is gelê op 30 bondels koperdraad en die ongelisensieerde voertuig.

In Utrecht het die tak die plaaslike polisiekantoor se kragopwekker herstel en laat diens nadat dit vir ongeveer drie jaar reeds probleme gee.

Die Rustenburg-tak het in Januarie voortgegaan met hul volhoubare skoonmaakprojek en drie hektaar gras is gesny. Die tak het ook ’n trekker aangeskaf wat deurlopend gebruik sal word om die gras te sny.

Die AfriForum-tak in Benoni het drie skoonmaakprojekte aangepak en twee parke is onder meer skoongemaak. Die tak het hard gewerk en ses hektaar gras is gesny en 180 swartsakke vullis is opgetel. Onkruiddoder is ook op die sypaadjies in Great Northstraat gespuit.

Verskeie teenboeliepraatjies is ook by skole gehou en die veldtogspan en AfriForumTV was by die Roepersfontein Bedieninge Kerk in Kriel. Twee van die akteurs van die film Die Val het ook die span vergesel. Verder is ’n teenboeliepraatjie vir leerders aan die CVO Gromar Landbou Akademie in Groblersdal aangebied.

Soortgelyke plasings