|

AfriForum het ’n drieledige plan om sukses in toekoms te behaal

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad gesê dié organisasie het ’n geheime wapen en plan om sukses in die toekoms te behaal.

“Dié plan behels dat ons ’n roeping, ’n Veg-en-Bou-plan asook die vermoë het om die plan uit te voer. As jy besig is met iets groter as jyself, kry jy energie en dryfkrag om groot uitdagings te oorkom. Ons veg vir geregtigheid, wedersydse respek en ‘n beter toekoms.”

Kriel het in sy voorlegging verwys na groot uitdagings soos gemeenskappe se veiligheid en ’n strafregstelsel wat nie werk nie. “Omdat dit nie werk nie, kan ons egter nie niks doen. Ons het ’n roeping om eerstens na ons gesinne en daarna na gemeenskappe en die res van die land se veiligheid om te sien. Om dit bereik, is AfriForum besig om sy strukture op grondvlak uit te bou.

“Ons moet egter ook voortgaan om druk op die regering, plaaslik en internasionaal, uit te oefen om te verseker dat bekwame mense aangestel word.”

Hy het verwys na AfriForum se uitvoerende vermoë wat reeds 143 buurt- en plaaswagte sterk is. AfriForum werk ook nou saam met ander buurtwagte en instellings en tydens ’n massapatrollie neem tot 300 instellings en 9 500 vrywilligers deel. AfriForum het voorts twee beheerkamers nasionaal en 44 streeksbeheerkamers. Daar is ook reeds 60 herhalers en 5 000 radio’s beskikbaar wat mense oor lang afstande in kontak bring.

Volgens Kriel het die organisasie ook nou die kapasiteit om self veiligheidsopleiding te doen. Meer as 3 800 mense en 15 protospanne is al opgelei. Voorts is ’n lugvleuel en hommeltuigvlieëniers ook beskikbaar om in tye van nood op te tree.

Soortgelyke plasings