AfriForum in hof oor kaderontplooiing

Geen meer baantjies vir boeties: AfriForum in hof oor kaderontplooiing

AfriForum het hofstukke ingedien om as ’n vriend van die hof in die Demokratiese Alliansie (DA) se saak teen kaderontplooiing toe te tree.  AfriForum verskyn as vriend van die hof in ’n verreikende saak teen die ANC-regering se beleid van kaderontplooiing. Dié burgerregteorganisasie voer aan dat kaderontplooiing op diskriminasie op grond van politieke affiliasie neerkom. Met ander woorde: Werksgeleenthede in die openbareadministrasiesektor word beperk vir mense wat nie ANC-lede is nie en dus nie vir kaderontplooiiing “kwalifiseer” nie.

Die nalatenskap van dié beleid is dat die openbare diensleweringsektor tot so ’n mate verval het dat slegs 19% van regeringsdepartemente- en entiteite skoon oudits ontvang. Dit gaan dus vir AfriForum oor die beginsel dat politieke partye, wanneer hulle aan bewind kom, verbied moet word om hul mag te misbruik om diskriminerende en vernietigende baantjies-vir-boeties-beleide toe te pas. Laastens voer AfriForum aan dat kaderontplooiing duidelik teenstrydig is met die Grondwet en die oppergesag van die reg. Dit is op hierdie regsgronde dat AfriForum optimisties is dat geregtigheid in die hof sal seëvier en dat kaderontplooiing verbied sal word.

AfriForum staan ’n samelewing voor wat vry is van enige vorm van diskriminasie en waarin die oppergesag van die reg gehandhaaf word. Daarom moet AfriForum sterk optree teen die ANC-regering se diskriminerende, vernietigende en onregmatige toepassing van kaderontplooiing. Indien kaderontplooiing deur die hof verbied word, sal dit ’n reuserol speel om die verval van regeringsinstellings om te keer en te voorkom dat daar teen lede van die publiek gediskrimineer word. Word ’n lid en help ons om ’n einde aan kaderontplooiing te maak.

Vyf gevolge van kaderontplooiing

1. Diskriminasie op grond van politieke affiliasie

Kaderontplooiing institusionaliseer en normaliseer diskriminasie op grond van politieke affiliasie. Omdat die ANC teen mense diskrimineer wat nie dié party ondersteun nie, beperk dit werksgeleenthede in die openbareadministrasiesektor vir diegene wat nie vir kaderontplooiing kwalifiseer nie. Wanneer sekere mense voorkeurbehandeling geniet en daar teen ander gediskrimineer word, het dit die gevolg dat poste nie deur die beste moontlike kandidate gevul word nie. Kaderontplooiing kom dus neer op die misbruik van politieke mag om baantjies-vir-boeties-beleide toe te pas en tot nadeel van die samelewing as geheel teen groot dele van die bevolking te diskrimineer. Hierdie blatante diskriminasie ondermyn uiteraard ook sosiale kohesie deur die boodskap uit te stuur dat, in die woorde van George Orwell, sommige mense gelyker is as ander.[1]

2. Die verval van die openbareadministrasiesektor

Aangesien die diskriminerende beleid van kaderontplooiing beteken dat poste nie op meriete gevul word nie, veroorsaak dit die onvermydelike agteruitgang van die openbareadministrasiesektor. In Suid-Afrika het slegs 19% van regeringsdepartemente en ‑instellings skoon oudits in die jongste ouditverslag van die ouditeur-generaal ontvang. In dieselfde verslag word daar gemeld dat die nasionale regering vir R1 miljard se vrugtelose en verkwiste uitgawes verantwoordelik was.[2] Die kwesbaarste mense in die samelewing word dikwels die ergste deur wanbestuur en korrupsie geraak, soos wat die Covid-19-pandemie byvoorbeeld weer eens bewys het. Die spesiale ondersoekeenheid het rondom 10% van die totale R152,5 miljard ondersoek wat aan die Covid-19-verligtingsfonds bestee is. Dit het gefinaliseerde onreëlmatighede in die toekenning van kontrakte van R7,9 miljard uit ’n totale bedrag van R13,4 miljard gevind, en sake ten bedrae van R2,1 miljard aan die spesiale tribunaal verwys.[3]

3. Die verval van infrastruktuur en dienslewering

Die diskriminerende en onmeritokratiese aanstelling van openbare amptenare en die gevolglike verval van bestuurstandaarde het die land se infrastruktuur laat agteruitgaan. Spoorweg-, pad- en ander staatsinfrastruktuur staan op die rand van algehele ineenstorting weens kaderontplooiing en die gepaardgaande toeken van SEB-kontrakte aan kontrakteurs met politieke verbintenisse. Die gevolg van die gebrekkige openbare logistiekinfrastruktuur het ’n bykans onberekenbare skadelike uitwerking op die land se ekonomie.[4]

Kaderontplooiing speel ook ’n groot rol in die wanbestuur van Suid-Afrika se openbare gesondheidstelsel, wat in onlangse ouditverslae geïllustreer word. Slegs die Wes-Kaapse provinsiale gesondheidsdepartement het daarin geslaag om ’n skoon oudit in die mees onlangse oudit van provinsiale gesondheidsdepartemente te ontvang. In nóg ’n verdoemende verslag het die Openbare Beskermer onlangs bevind dat die gehalte van staatshospitale in sekere provinsies onder ANC-beheer tot so ’n vlak verswak het dat dit pasiënte se regte skend.[5] Weens die wanbestuur van die gesondheidstelsel deur ANC-kaders is daar ’n ernstige tekort aan dokters, met ’n dokter/pasiënt-verhouding van 0,32 tot 1 000 in Suid-Afrika. Dié verhouding is veel kleiner as ander ontwikkelende lande soos Mexiko (2,44:1 000) en Brasilië (2,32:1 000). Die stelselmatige agteruitgang in die gesondheidsbedryf kan ook gesien word deurdat Suid-Afrika in 2019 nog 0,79 dokters per 1 000 pasiënte gehad het.[6]

Kaderontplooiing lei verder tot die mislukking van Suid-Afrika se onderwysstelsel. Suid-Afrika bestee soortgelyke hoeveelhede per capita-fondse op onderwys as die meeste lande in die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling,[7] maar die land se opvoedingstelsel is onlangs weer tweede laaste op ’n ranglys van 75 lande geplaas.[8] Die rede vir die agteruitgang van die opvoedingstelsel is dus nie ’n gebrek aan befondsing nie, maar die feit dat fondse wanbestee en verkwis word deur regeringsdepartemente waarin kaderontplooiing aan die orde van die dag is.

Die land se water- en sanitasie-infrastruktuur gaan al dekades lank onder ernstige wanbestuur gebuk – grootliks te wyte aan kaderontplooiing. In die 2020/2021- finansiële jaar was die Departement van Water en Sanitasie verantwoordelik vir onreëlmatige uitgawes ten bedrae van R9,63 miljard, wat nie spoedig verskoon, afgeskryf of teruggevorder is nie.[9] Die onlangse Green dot-verslag wys daarop dat ’n verstommende 50% van afvalwaterfasiliteite riool nie behoorlik behandel nie en dat 39% van dié fasiliteite in ’n kritieke toestand is. Verder word ’n omgewingsramp veroorsaak deurdat baie riool nie eers deur dié fasiliteite opgevang word nie en direk in die omgewing vrygelaat word.[10] Daar word ook berig dat stadsentrums 50% of meer van hul water weens waterlekke verloor.[11]

Kaderontplooiing het ook grootliks bygedra tot die byna algehele ineenstorting van Suid-Afrika se staatsbeheerde energievoorsiener, Eskom. In die vroeë 2000’s was Eskom ’n energieverskaffer van wêreldklas wat groot hoeveelhede elektrisiteit aan Suidelike Afrika voorsien het.[12] Ongelukkig het die laaste twee dekades van ANC-bestuur en -kaderontplooiing Eskom tot op die rand van ’n afgrond gebring. Die inwerkingstelling van beurtkrag in die eerste ses maande van 2022 is reeds meer as die totale inwerkingstelling van beurtkrag in 2020. Volgens konserwatiewe beramings het fase 6-beurtkrag die ekonomie sowat R4 miljard per dag gekos,[13] maar kenners reken dat die werklike skade van beurtkrag onberekenbaar is omdat buitelandse beleggers hul weens die energie-onsekerheid aan Suid-Afrika onttrek.[14] 

4. Werkloosheid en staatsafhanklikheid

Die korrupsie, wanbesteding en ekonomiese agteruitgang wat met kaderontplooiing gepaard gaan, het ’n leeueaandeel in die werkloosheidskoers van 46,2% (volgens die uitgebreide definisie) wat in Maart 2022 aangeteken is.[15] Hierdie hoë werkloosheidskoers, asook ’n regeringsbeleid wat poog om die rol van die privaatsektor oor te neem, veroorsaak dat afhanklikheid van die staat toeneem. Daar is met die begrotingsrede van 2022 aangekondig dat 46% van Suid-Afrikaners van maatskaplike regeringstoelaes afhanklik is. Dié toelaes word deur ’n yl en kwynende belastingbasis befonds (daar word bereken dat net meer as 5% van Suid-Afrikaners 91,8% van alle inkomstebelasting betaal.)[16] Bowendien is hierdie toelaes in die meeste gevalle nouliks genoeg vir mense om te kan oorleef; dit is dus geensins ’n langtermynoplossing vir armoede nie. Sulke toelaes is glad nie volhoubaar nie, aangesien dit algemeen bekend is dat Suid-Afrika op ’n fiskale afgrond staan. Dit beteken dat rente op staatskuld, staatsdienssalarisse en maatskaplike welvaartbetalings meer as die totale inkomste van die regering sal beloop.

Die regering se hoofrol behoort te wees om ’n ruimte te skep waarin die privaat sektor kan werk en welvaart kan skep. Op hierdie stadium probeer die regering egter om die privaat sektor se rol oor te neem.

5. Misdaad

Die gevolge van die gebrekkige bestuur wat deur kaderontplooiing veroorsaak word, word in die heersende wetteloosheid van die land weerspieël. Ná afloop van die inperkings wat tydens die pandemie gegeld het, het misdaad in Suid-Afrika beduidend toegeneem. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens is 12 942 moorde tussen Oktober 2021 en Maart 2022 gepleeg, terwyl 22 133 gevalle van verkragting oor dieselfde tydperk aangeteken is.[17], [18] Dit kom neer op 71 moorde en 121 verkragtings per dag. Die graad van polisiemislukking en die algehele onveiligheid van die land op voetsoolvlak word verder blootgelê deur die feit dat daar tans drie keer meer privaatsekuriteits- (557 277)[19] as polisiebeamptes (182 126) in diens geneem is.[20] Minister Bheki Cele se onlangse woede-uitbarsting – toe hy by ’n gemeenskapsvergadering oor misdaadbekommernisse deur bekommerde lede van die publiek aangespreek is – spreek boekdele oor die gebrek aan aanspreekliheid en bevoegdheid wat kaderontplooiing kweek.


[1]     Orwell, G. 1987. Animal farm. Boston: Mariner Book.

[2]     Ouditeur-generaal van Suid-Afrika. 2021. Consolidated general report on national and provincial audit outcomes. Beskikbaar by https://www.agsa.co.za/Portals/0/Reports/PFMA/202021/Consolidated%20PFMA%20General%20Report%202020-21%20-%20FINAL%208%20December.pdf?ver=2021-12-08-114517-993. Geraadpleeg op 12 September 2022, bl. 3 & 53.

[3]     Special Investigating Unit. 2021. Final report to the President in terms of section 4(1)(f) of the Special Investigating Units and Special Tribunals Act No. 74 of 1996. Beskikbaar by https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202201/final-consolidated-report.pdf. Geraadpleeg op 12 September 2022, bl. 4–7.

[4]     Gumede, W. 2022. SA’s entire infrastructure is on the verge of total collapse. Beskikbaar by https://www.wits.ac.za/news/latest-news/opinion/2022/2022-07/sas-entire-infrastructure-is-on-the-verge-of-total-collapse.html. Geraadpleeg op 19 August 2022.

[5]     Evans, J. 2021. Public Protector investigation finds that hospitals violate South Africans’ rights. Daily Maverick, 3 October. Beskikbaar by https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-10-03-public-protector-investigation-finds-that-hospitals-violate-south-africans-rights/. Geraadpleeg op 5 Julie 2022.

[6]     BusinessTech. 2022. Critical doctor shortage in South Africa. 9 May. Beskikbaar by https://businesstech.co.za/news/lifestyle/584540/critical-doctor-shortage-in-south-africa-raises-concerns-for-governments-nhi-plans/. Geraadpleeg op 18 Augustus 2022.

[7]     Mlachila, M. & Tlhalefang M. 2019. Struggling to make the grade: A review of the causes and consequences of the weak outcomes of South Africa’s education system. Beskikbaar by https://www.imf.org/en/Publications/WP/Issues/2019/03/01/Struggling-to-Make-the-Grade-A-Review-of-the-Causes-and-Consequences-of-the-Weak-Outcomes-of-46644. Geraadpleeg op 22 September 2022, bl. 49–51.

[8]     Workman, M. 2020. Our education system is broken, and unless we fix it, all else is doomed. Daily Maverick, 26 November. Beskikbaar by dailymaverick.co.za/article/2020-11-26-our-education-system-is-broken-and-unless-we-fix-it-all-else-is-doomed/#:~:text=In%202020%20a%20survey%20was,a%20total%20of%2076%20countries. Geraadpleeg op op 22 September 2022.

[9]     Ouditeurs-generaal van Suid-Afrika. 2021. PFMA 2020-21 Consolidated general report on national and provincial audit outcomes. Beskikbaar by https://www.agsa.co.za/Portals/0/Reports/PFMA/202021/Consolidated%20PFMA%20General%20Report%202020-21%20-%20FINAL%208%20December.pdf?ver=2021-12-08-114517-993. Geraadpleeg op 12 September 2022, bl. 67. 

[10]   Kretzmann, S. 2022. ‘A tsunami of human waste’ – Half of SA’s sewage treatment works are failing, says report. Daily Maverick, 21 Junie. Beskikbaar by https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-06-21-a-tsunami-of-human-waste-half-of-sas-sewage-treatment-works-are-failing-says-study/. Geraadpleeg op 12 Julie 2022.

[11]   Carnie, T. 2022. Enormous amounts of water are wasted daily – now municipalities are being told to ‘stop the leaks’. Daily Maverick, 17 Maart. Beskikbaar by https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-03-17-enormous-amounts-of-water-are-wasted-daily-now-municipalities-are-being-told-to-stop-the-leaks/. Geraadpleeg op 22 Junie 2022.

[12]   Janse van Rensburg, R. 2022. 6 reasons you are paying more for electricity due to BEE. 24 Julie. Beskikbaar by https://solidariteit.co.za/en/6-reasons-you-are-paying-more-for-electricity-due-to-bee/. Geraadpleeg op 25 Julie 2022.

[13]   BusinessTech. 2022. Stage 6 load shedding costs South Africa over R4 billion per day: economist. 1 Julie. Beskikbaar by https://businesstech.co.za/news/energy/602056/stage-6-load-shedding-costs-south-africa-over-r4-billion-a-day-economist/. Geraadpleeg op 12 Julie 2022.

[14]   AfriForum.2022. Polities Inkorrek – S2 E4: Beurtkrag [YouTube-video]. 20 Julie, by 03:10–3:30. Beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=4J1gH4M6k_E. Geraadpleeg op 1 September 2022.

[15]   Fin24. 2022. After long delay, Stats SA confirms record unemployment rate. 29 Maart. Beskikbaar by https://www.news24.com/fin24/economy/after-a-long-delay-stats-sa-confirms-record-unemployment-rate-20220329. Geraadpleeg op 2 September 2022.

[16]   Solidariteit Navorsingsinstituut. 2021. Income tax flash report. Beskikbaar by https://solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2021/09/BelastingBlits_ENG.pdf. Geraadpleeg op 20 Augustus 2022. 

[17]   South African Police Service. 2021. Police recorded crime statistics. Beskikbaar by https://www.saps.gov.za/services/downloads/third_quarter_presentation_2021_2022.pdf. Geraadpleeg op 6 Julie 2022.

[18]   Ibid.

[19]   BusinessTech. 2022. Big shift for private security in South Africa. 25 April. Beskikbaar by https://businesstech.co.za/news/business/580502/big-shift-for-private-security-in-south-africa/#:~:text=The%20total%20number%20of%20registered,the%20Western%20Cape%20(12%25). Geraadpleeg op 6 Julie 2022.

[20]   BusinessTech. 2022. Here’s how many police officers there are in South Africa – and what they earn. 24 April. Beskikbaar by https://businesstech.co.za/news/government/579116/heres-how-many-police-officers-there-are-in-south-africa-and-what-they-earn/#:~:text=By%20comparison%2C%20its%20most%20up,an%20effective%20decrease%20of%208.8%25. Geraadpleeg op 24 April 2022.

Soortgelyke plasings