|

AfriForum loods aanslag teen kaderontplooiing

Die burgerregteorganisasie AfriForum het hofstukke ingedien om as ’n vriend van die hof in die Demokratiese Alliansie (DA) se saak teen kaderontplooiing toe te tree. Volgens AfriForum is daar ’n aantal regsgronde waarom kaderontplooiing deur die hof verbied moet word.

Eerstens, voer AfriForum aan dat die ANC se beleid van kaderontplooiing diskriminasie op grond van politieke affiliasie uitmaak. Werksgeleenthede word met ander woorde op ’n diskriminerende wyse in die openbare administrasie sektor beperk vir diegene wat nie ANC-lede is en vir kaderontplooiing kwalifiseer nie. Tweedens, beskou AfriForum kaderontplooiing as teenstrydig met die Grondwet en die oppergesag van die reg. Derdens, wys AfriForum op die misbruik van kaderontplooiing en die katastrofiese gevolge daarvan wat tot die verval van regeringsinstellings regoor die land gelei het. AfriForum se betrokkenheid by hierdie saak teen kaderontplooiing gaan dus oor die beginsel dat politieke partye, wanneer hulle aan bewind kom, verbied moet word om hul staatsmag te gebruik om diskriminerende en vernietigende baantjies-vir-boeties-beleide toe te pas.

“AfriForum staan vir ’n samelewing vry van enige vorm van diskriminasie en die handhawing van die oppergesag van die reg. Daarom moes AfriForum streng optree teen die ANC-regering se diskriminerende, vernietigende en onregmatige toepassing van kaderontplooiing. Indien kaderontplooiing deur die hof verbied word, sal dit ’n reuserol speel om die verval van regeringsinstellings te kniehalter en te voorkom dat daar teen lede van die publiek gediskrimineer word,” sê Reiner Duvenage veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum.

Stop die aanstelling van ANC kaders

Soortgelyke plasings