AfriForum Jeug verwelkom hofuitspraak: EFF-lid skuldig aan haatspraak en aanhitsing tot geweld


AfriForum Jeug het vandag sukses in die gelykheidshof in Pretoria behaal nadat Luvuyo Menziwa, ’n lid van die EFF se jeugvleuel aan die Universiteit van Pretoria (UP), aan haatspraak en aanhitsing tot geweld skuldig bevind is.
Die hof het beveel dat Menziwa binne vyf dae vanaf die hofuitspraak op sy Facebook-blad om verskoning vir sowel sy aksies as die nadelige gevolge daarvan moet vra. Hy moet verder gemeenskapsdiens, spesifiek in armoedige wit gemeenskappe, verrig.
Dít volg nadat Menziwa in 2016 ’n plasing op Facebook gemaak het waarin hy uiteensit waarom hy wit mense haat en daarna verder gaan om vir ’n bazooka of AK 47 te vra sodat hy wit mense kan doodmaak. (Sien skermskote aangeheg.)
Henrico Barnard, voormalige studenteraadvoorsitter van die UP en lid van AfriForum Jeug, het na aanleiding van hierdie plasing in 2016 ’n klag teen Menziwa vir haatspraak en aanhitsing tot geweld aanhangig gemaak.

“Dit is verblydend om te sien dat politieke studenteleiers nie bo die wet verhewe is nie. Ek wil dit benadruk dat leiers verantwoordelikheid moet aanvaar vir hul uitlatings en hulle nie moet skuldig maak aan goedkoop politiekery nie,” sê Barnard
“AfriForum verwelkom die uitspraak omdat diegene, ongeag hul kleur, wat hulle skuldig maak aan haatspraak en aanhitsing tot geweld deur die howe gestraf word. Ons let egter daarop dat Menziwa se straf nie naastenby so hewig soos dié van individue soos Penny Sparrow is nie, hoewel Menziwa se uitlating ’n element van geweld bevat het. Net so fokus talle mediahuise telkens op gevalle van sogenaamde rassisme waarby wit oortreders betrokke is, maar hierdie geval, waar ’n swart individu homself aan dieselfde misdryf skuldig gemaak het, is nie gedek nie,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

 

Soortgelyke plasings