AfriForum vergader met Telkom en Openserve oor afsny van landlyndienste in Kaapprovinsies


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 8 Maart met bestuurslede van sowel Telkom as die diensverskaffer Openserve – wat verantwoordelik is vir die oprigting en instandhouding van Telkom se infrastruktuur – vergader. Dié vergadering is aangevra omdat Telkom landlyne in landelike gebiede van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap afsny sonder om alternatiewe geriewe beskikbaar te stel.
Tydens die vergadering het Grant Evert, senior bestuurder van Openserve, en Yvonne Lombaard, senior bestuurder van Telkom, onderneem dat geen landlyndienste na landelike gebiede verder afgesny sal word nie tensy alternatiewe tegnologie vir geaffekteerde gebiede beskikbaar gestel word.
Telkom het verder onderneem dat ’n lys van die geaffekteerde gebiede aan AfriForum beskikbaar gestel sal word, asook dat verdere streekvergaderings met gemeenskappe beplan word ten einde die publiek se insette rakende hierdie kwessie te bekom. AfriForum sal in kennis gestel word van genoemde streekvergaderings.
Alternatiewe tot landlyndienste in landelike gebiede is noodsaaklik weens voortdurende kabeldiefstal, asook verouderde tegnologie wat nie langer onderhou kan word nie.
Inwoners van die Kaapprovinsies word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak: SMS jou naam na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings