| | |

AfriForum Jeug verwelkom verskuiwing van MT Steyn-standbeeld – want Kovsies verdien hom nie

AfriForum Jeug verwelkom die verskuiwing van president MT Steyn se standbeeld van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus na die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke as gevolg van dié universiteit se dekolonisering- en transformasiebeleid. Die organisasie keur nie die verskuiwing goed nie, maar is van mening dat dié kampus nie verdien om die standbeeld te huisves nie.

“AfriForum Jeug veg jare reeds vir die behoud van Afrikanererfenis op die kampus, insluitend die behoud van pres. Steyn se standbeeld omdat hy so ’n groot rol in dié provinsie sowel as dié instelling gespeel het,” sê Chantelle du Preez, Nasionale Koördineerder van AfriForum Jeug.

“Pres. Steyn was ’n geskiedkundige held wat ’n groot rol in die Afrikanergeskiedenis gespeel het in die tyd van Engelse oorheersing. AfriForum Jeug sal steeds veg vir die behoud van dié held se nalatenskap.”

Du Preez sê voorts dat AfriForum Jeug kwaad en hartseer is oor die feit dat Afrikanererfenis nie op die Kovsies-kampus welkom is nie. Die organisasie is egter dankbaar dat die beeld nou na ’n plek verskuif word waar sy invloed en rol in die geskiedenis hopelik wel gerespekteer en waardeer sal word en waar mense die beeld kan besoek.

AfriForum Jeug sal die verskuiwingsproses moniteer sodat daar geen skade aan die Steyn-beeld gerig word nie en sal aanhou veg vir die behoud van Afrikanererfenis op alle kampusse waar AfriForum Jeug gevestigde strukture het.

Maak ’n verskil en raak vandag nog by die jeugstrukture betrokke: stuur ’n e-pos na chantelle.dupreez@afriforum.co.za of SMS ‘Kovsies’ na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings