AFRIFORUM DIEN KORRUPSIEKLAG TEEN FIKILE MBALULA EN DEPARTEMENT VAN VERVOER IN

AfriForum het vandag ’n formele klag by die kantoor van die Openbare Beskermer ingedien waarin versoek word dat ’n dringende ondersoek van wanadministrasie en moontlike korrupsie by die Departement van Vervoer van stapel gestuur word.

Dit volg ná die departement sy eNatis-stelsel in 2007 geloods het. Ná 14 jaar funksioneer dié stelsel steeds nie behoorlik nie en dwing die gebruik van hierdie stelsel wetsgehoorsame burgers om omkoopgeld te betaal net om ’n afspraak te maak.

Die departement se oneffektiwiteit het ook die deur oopgelos vir opportunistiese derde partye wat nou blyk om die enigste persone te wees wat suksesvol ’n afspraak kan maak. Hierdie partye vra die publiek enigiets van R240 en meer om ’n afspraak vir die hernuwing van rybewyse te maak.

AfriForum het ook vandag ’n webblad beskikbaar gestel waar die publiek hul teenkanting van Mbalula se voorgestelde wysiging, wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is, te kenne kan gee. Hierdie voorgestelde wysiging meld dat motoriste R250 gaan moet opdok net om ’n aanlyn bespreking op die mislukte eNatis-stelsel te maak.

Rybewyse wat tydens die inperking verval het, se hernuwing is vir die derde keer uitgestel wat weer eens die chaotiese toestand van Suid-Afrika se rybewyshernuwingstelsel bevestig. Duisende motoriste is steeds nie in staat om afsprake vir rybewyse óf hernuwings te maak nie.

Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum, sê dat die dorre toestand van die ANC gereguleerde rybewysstelsel wetsgehoorsame burgers in kriminele verander.

“Die ANC het weer eens gedemonstreer dat hulle inderdaad ’n omgekeerde Midas-aanraking het wat alles waaraan hulle vat in ’n katastrofiese mislukking laat ontaard. ’n Party met hulle baanrekord het geen reg om daarop aan te dring dat die publiek nóg meer moet betaal om op te maak vir die regerende party se mislukkings nie,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings