|

Skrap TV-lisensies!

AfriForum dring in parlementêre kommentaar aan op die wegdoen van TV-lisensies en privatisering van SAUK

Skrap TV-lisensies en privatiseer die SAUK. Dít is die burgerregteorganisasie AfriForum bondige eis soos vervat in sy kommentaar op die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie SOC BPK [B32-2023] wat vandag by die portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie ingedien is. AfriForum stel hierdie twee oplossings voor vir die SAUK se langdurige en voortdurende stryd met befondsing, korrupsie, wanbestuur en verkwiste uitgawes. AfriForum se hoofoplossing stel die privatisering van dié staatsinstelling voor. As die regering egter die desentralisasie van staatsmag verwerp, is die alternatief om weg te doen met TV-lisensies. Hoe dit ook al sy, die huidige disfunksionele status quo kan nie voortduur nie.

AfriForum voer in sy geskrewe voorlegging aan dat privatisering die SAUK sal laat herleef en tot beter doeltreffendheid, hoër programgehalte en finansiële stabiliteit sal lei. Privatisering sal ook help om korrupsie en wanbestuur te beveg. Met betrekking tot die wegdoen van TV-lisensies, het AfriForum die hemelhoë koerse van ontduiking en nie-nakoming aangehaal, asook die onregverdigbare bykomende finansiële las wat dit op arm huishoudings plaas. AfriForum het ook moontlike alternatiewe bronne van finansiering ter tafel gelê, insluitende finansiering deur middel van vennootskappe, borgskappe en samewerking met privaat entiteite.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het die Suid-Afrikaanse regering al meer as genoeg tyd gehad om die agteruitgang en droewige stand van sake by die SAUK om te keer. Dit is tyd vir ’n alternatief – ’n benadering wat nie staatsgesentreerd is nie. 

“TV-lisensies is ’n bewese ondoeltreffende bron van finansiering vir die SAUK. In 2022/2023 het die ontduikingskoers van lisensiebetalings op ’n hemelhoë 87% gestaan. Daar moet daarom weggedoen word met TV-lisensies en dit moet vervang word met ’n alternatiewe finansieringsmodel wat waarlik werk. In die geval van ’n geprivatiseerde SABC, sal TV-lisensies ook vanselfsprekend tot die verlede behoort,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings