|

AfriForum Jeug vier Afrikaans se 91ste verjaarsdag met interaktiewe monumente

Die burgerregte-organisasie AfriForum se jeugstrukture het vandag op universiteitskampusse landwyd tydelike “boublok”-monumente opgerig ter herdenking van Afrikaans se 91ste bestaansjaar.

AfriForum Jeug het sy takke by die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom- kampus gemobiliseer en interaktiewe houtblok-monumente opgerig waarop Afrikaanse gesegdes en woorde pronk.

“AfriForum Jeug het hierdie aksie geloods om Afrikaans se verjaarsdag te vier op ’n wyse waarop studente aktief betrokke kon wees, omdat dat dit juis hulle is wat die taal lewendig op kampus moet hou,” het Morné Mostert, nasionale woordvoerder vir AfriForum Jeug, gesê.

Hy het gesê die blokke is simbolies van verdere bou en ontwikkeling van Afrikaans as ’n onderrigtaal. “Die studente het vandag hierdie monumente gebou om te wys dat hulle aktief betrokke is en ’n positiewe bydra wil lewer vir hul taal.”

Hoewel kampus-sekuriteit en radikale studentegroepe op sekere kampusse teenwoordig was, het die nasionale aksie volgens Mostert suksesvol afgeloop.

Marlé Odendaal, kampuskoördineerder vir AfriForum Jeug se Maties-tak, het gesê hulle kon vreedsaam voortgaan met hul aksie, ondanks die teenwoordigheid van Open Stellenbosch-studente. “Ons is stomgeslaan met die ondersteuning wat ons vandag op kampus gehad het. Dit is wonderlik om te sien hoeveel studente ’n bydra wil lewer en vir Afrikaans omgee en dit wil vier.”

Janli Sonntag, kampuskoördineerder vir AfriForum Jeug se Pukke-tak, meen studente het dit geniet om fisies deel te neem aan die bou van ’n monument. “Ons monument is interaktief en kreatief en ’n positiewe simbool vir die toekoms van Afrikaans.”

Tristan Kamp, ’n eerstejaarstudent in teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), het aan Forum Nuus gesê dat hy deel wou wees van die aksie omdat hy lief is vir sy taal en die wyse waarop AfriForum Jeug vir Afrikaans as onderrigtaal veg ondersteun.

Hoewel kampus-sekuriteit by die UP die monument na minder as ’n uur verwyder het, was hy steeds bly om deel te wees van die geleentheid, het Kamp gesê.

“Ek het nog nooit gesien dat AfriForum Jeug geweld gebruik om hul boodskap oor te dra nie en vind dit bitter onregverdig dat die sekuriteit die saak op hierdie wyse hanteer het. As die EFF hul standpunte op aggressiewe maniere mag uitleef, hoekom mag ons dit nie op ’n vreedsame manier uitleef nie? Ons wys dat ons trots is sonder om bakstene te gooi,” het Kamp gesê.

Die boublok-monumente-aksie is deel van AfriForum Jeug se nasionale “Afrikaans sal bly”-veldtog, wat ten doel het om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou. Dié jeugorganisasie het vandeesmaand ’n kompetisie geloods waar vier studente van die vier kampusse elk ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 kan wen.

AfriForum Jeug wil alle ingeskrewe Afrikaanse studente aanmoedig om deel te neem deur hul naam en die naam van die kampus waar hulle studeer na 32687 te SMS (R1). Die wenners sal lukraak gekies word en op 16 Mei 2016 op die onderskeie kampusse aangekondig word.

Kyk hier vir meer foto’s.

Soortgelyke plasings