|

AfriForum kap konsepwysigings wat privaat sekuriteitsbedryf sal kniehalter

Die burgerregteorganisasie AfriForum het kommentaar ingedien teen die konsepwysigings aan die Wet op die Regulering van die Privaat sekuriteitsbedryf, 2001 (wet no. 56 van 2001), wat op 31 Mei 2019 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Volgens Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, hou die beoogde wysigings verreikende gevolge vir die sekuriteitsbedryf in. Dit beperk onder meer die klas vuurwapens wat aan sekuriteitswagte in die uitvoer van hul dienste uitgereik mag word, terwyl semi-outomatiese vuurwapens ingevolge die konsepwysigings slegs in die geval van transitodienste uitgereik mag word.

AfriForum stem met die meerderheid sekuriteitsmaatskappye saam dat dié bedryf in so ’n geval nie sekuriteitsdienste na behore kan lewer as misdadigers met outomatiese en semi-outomatiese aanvalsgewere gewapen is nie.

Sekuriteitsmaatskappye het op 18 Junie 2019 ’n vergadering by die Burgerspark Hotel in Pretoria bygewoon om hul insette aan die reguleringsgesag vir die privaat sekuriteitsbedryf (PSiRA) oor die voorgestelde wysigingsontwerp te gee. Verteenwoordigers wat die vergadering bygewoon het, onder andere dié van AfriForum, het hulle misnoeë te kenne gegee; hulle het veral daarop klem gelê dat sekuriteitsmaatskappye nie na behore geraadpleeg is of die geleentheid gebied is om insette te gee voordat die konsepwysigings opgestel en gepubliseer is nie.

“Weens die SAPD en SANW se nalatigheid beland talle outomatiese en semi-outomatiese vuurwapens in die hande van boosdoeners. Dit is verregaande en absurd om sekuriteitsmaatskappye nou van hul bevoegdhede te ontneem en tot die gebruik van semi-outomatiese vuurwapens tydens die uitvoer van sekere dienste te beperk. Hoe op aarde is sekuriteitswagte, wat meestal vóór die SAPD by misdaadtonele opdaag, veronderstel om kliënte en die publiek te beskerm teen aanvallers wat baie swaarder gewapen is?” wil Kamfer weet.

AfriForum sê in sy geskrewe kommentaar dat die voorgestelde wysigings oppervlakkig simplisties is en dalk selfs buite die bevoegdheid van die minister val.

Volgens AfriForum poog die voorgestelde wysigings nie eens om die bestaande regulasies rondom vuurwapens met die nuwe voorgestelde regulasies te versoen nie. Die voorgestelde wysigings sal privaat sekuriteitsdienste aan bande lê om behoorlike diens te lewer.

AfriForum meen die owerheid moet dringend met rolspelers in die industrie vergader voordat die voorgestelde wetwysigings aanvaar word.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity, een van die land se grootste private sekuriteitsmaatskappye, het ook in die naweek in die media op leemtes in die voorgestelde wysigings gewys. Hy meen geweld moet soms met geweld beveg word en in sekere omstandighede is semi-outomatiese gewere nodig.

In ’n hofsaak waarby Fidelity betrokke is, is verlede week in die Pretoriase hooggeregshof gelas dat die maatskappy 700 vuurwapens aan die polisie vir vernietiging moet oorhandig omdat die lisensies daarvan verstryk het. Dit het gebeur nadat die persoon wat moes toesien dat die lisensies hernu word, siek geword en toe dood is. Fidelity gaan teen die uitspraak appelleer.

Fidelity het ook onlangs ’n ooreenkoms met georganiseerde landbou gesluit om te help om die hoë vlakke van misdaad en plaasaanvalle in landelike gebiede te bekamp.

Regslui meen Bheki Cele, minister van polisie, wil met die voorgestelde wysigings vuurwapens uit die samelewing verwyder, maar hy kan dit nie op die wyse doen nie.

Daar is na raming byna 9 000 geregistreerde private sekuriteitsdiensverskaffers in die land wat derduisende mense in diens het. As die wysigings aanvaar word, sal dit tot enorme werkverliese ly.

Soortgelyke plasings