|

AfriForum kontak UNESCO oor Afrikaans in die Wêreldatlas van Tale

In Februarie 2022 het die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) die UNESCO Wêreldatlas van Tale (UNESCO World Atlas of Languages) bekendgestel.

Dit word beskryf as ’n interaktiewe en dinamiese aanlyn hulpmiddel wat aspekte van taalstatus in lande en met betrekking tot tale regoor die wêreld dokumenteer met die doel om die wêreld se linguistieke diversiteit en veeltaligheid as ’n unieke erfenis en skat van die mensdom te bewaar, dit te laat herleef en te bevorder. Die bekendstelling daarvan het saamgehang met die aanvang van UNESCO se Internasionale Dekade van Inheemse Tale (2022-2032).

Tydens die bekendstelling van die atlas is beklemtoon dat inheemse tale ’n sleutelrol speel in die verbetering van geletterdheid, die insluiting van gemeenskappe, hulle toegang tot openbare dienste, die bekamping van stigmatisering en diskriminasie, asook kennisontsluiting op die terreine van wetenskap, geskiedenis, kultuur en selfs voedselsekerheid. Dit is ’n dinamiese inisiatief wat deurentyd opgedateer word en ondersteun word deur die regering van Japan, die privaatsektor vennoot Talkmate en die Prins Sultan Bin Abdulaziz Al-Saud-stigting.

Tans sluit die Wêreldatlas van Tale 8 324 tale in, waarvan ongeveer 7 000 steeds in gebruik is. Elke taal word duidelik gekategoriseer volgens tipe, struktuur, stand, status, funksies, gebruikers en gebruik. Dit kan gefynkam word met ’n land of bepaalde taal as soekterm. Engels, Frans, Spaans, Russies, Arabies of Sjinees kan as gebruikstaal ingespan word.

Die inligting per land wat hierin opgeneem word, is van insette van elke betrokke land se regeringsaangewese fokusgroep afhanklik. Helaas is daar geen inligting onder “Suid-Afrika” oor die land se tale beskikbaar nie en verskyn slegs ’n nota op die webblad wat verklaar dat daar op inligting gewag word.

Tale word geklassifiseer as veilig (65 tale), potensieel kwesbaar (1 163 tale), bedreig (2 698 tale), beslis bedreig (2 362 tale), ernstig bedreig (462 tale) en kritiek bedreig (383).

“Afrikaans” word as potensieel kwesbaar beskryf, maar verder word geen inligting oor die taal voorsien nie. Die aantal sprekers word as 999 999 999 aangedui. Ongelukkig beteken dit nie dat Charlize Theron met ’n paar honderd miljoen uit was toe sy verklaar het dat net 44 mense nog Afrikaans praat nie ‒ die neges is bloot plekhouers tot ’n aantal sprekers in die data ingevoer word.

Duidelik is die opstellers van die platform nie geheel en al onkundig oor Afrikaans nie. Die feit dat dit as potensieel kwesbaar beskryf word, wys daarop dat daar wel kennis geneem is van die uitdagings wat ons taal in die gesig staar.

AfriForum het die atlas se administrateurs genader met die versoek om behulpsaam te wees met die inligting wat oor Afrikaans, Suid-Afrika en ander tale van die land ontbreek. Hulle het ontvangs erken en hul dank vir die bydrae uitgespreek en onderneem om die inligting na te gaan ek te kyk hoe dit in die atlas opgeneem kan word.

Soortgelyke plasings