|

Jong entrepreneurs beïndruk met hul entrepreneuriese vaardighede

Die wenners van AfriForum se Besigheidsbytjies- en Juniorpreneurskompetisie is vandag op Pretoria FM aangekondig. Dié kompetisie wat uit twee kategorieë nl. die hommelbytjies en die juniorpreneurs bestaan, is daarop gemik om jong entrepreneurs van vroeg af te bemagtig.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, het hulle ná die Entrepreneur van die jaar-kompetisie in 2017 begin is agtergekom daar is kinders wat ook hul entrepreneursvaardighede ten toon wil stel. Die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie het toe in 2019 die lig gesien terwyl die kompetisie later uitgebrei is om voorsiening te maak vir hoërskoolleerders met ’n kop vir besigheid.

Met 51 inskrywings wat vanjaar vir dié kompetisie ontvang is, meen Van der Walt dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling vir die kompetisie gegroei het. Groot pryse was ook op die spel en die wenners en naaswenners het met kontantpryse van tussen R1 500 en R10 000 weggestap.

Die beoordeling van die kompetisie het op 7 Julie plaasgevind en die beoordelaars was Johan Oliver (Moneytime Kids en MyLife), Mareli Swanepoel (Akademia), Esmarie Yssel (Pretoria FM), Hui-Mari Meyer (WIRED – Flip the switch!) en Lesley-Anne van Eeden (Matt & Milly).

“Ons het met die beoordeling jong mense gesien wat salf ontwikkel vir gimnaste, meisies wat klere verstel en ander wat ontwerpershuisitems met tou vleg of blatjang kook. Elke inskrywing dui daarop dat ons hier te make het met ’n generasie wat fluks is en bereid is om hard te werk om vir hulleself ’n blink toekoms oop te werk,” sê Yssel.

Die twee kategorieë van die kompetisie is verder verdeel en vier wenners is aangewys. Hulle is:

Kategorie 1 (grondslagfase): Immeke Nel van Gqeberha met haar onderneming Immie’s Gifts. Immeke is ’n gr. 1-leerder wat geskenke verkoop wat sy self maak.

Kategorie 2 (intersenfase): Chani Britz van Bloemfontein met haar onderneming Koekies & Krummels. Hierdie gr. 6-leerder verkoop koekie-fudge.

Kategorie 3 (hoërskole – gr. 8 en 9): Engelize Botha van Pretoria met haar onderneming Zoemsalf. Sy verkoop salf vir droë lippe, skaaf-, seer- en bytplekke en letsels.

Kategorie 4 (VOO-fase – Hoërskole gr. 10, 11 of 12): Nina Wärnich van Pretoria met haar onderneming nini wat handgemaakte kraletjie hangertjies en sonbriltoutjies maak.

“Ek was baie opgewonde om vanoggend saam met my gesin Pretoria FM te luister om uit te vind wie die wenners is. Toe hulle my naam noem het ek kliphard van blydskap geskreeu. Die kompetisie het my gemotiveer om meer in myself te glo en aangespoor om ’n nóg groter sukses van Koekies & Krummels te maak! Ek het baie hieruit geleer,” sê Chani, wenner van die intersenfase-kategorie.

“Hier by AfriForum is ons beïndruk om so baie jong entrepreneurs te sien wat werklik ’n passie het vir entrepreneurskap. Die deelnemers het ons verbaas met hul innoverende idees, produkte en/of dienste. Hulle het reeds die vaardigheid om ’n gaping in die mark te identifiseer en is beslis in die kol om daardie behoeftes aan te spreek en te vul. Ons wens ons wenners, asook elke deelnemer van die kompetisie alle sterkte toe met die toekoms en sukses van hulle sakeondernemings. Ek glo hulle inspireer ander jong mense met hul eie entrepreneursgees,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

Soortgelyke plasings