|

AfriForum voorsien inligting oor Afrikaans aan UNESCO Wêreldatlas van Tale

AfriForum het pas inligting oor Afrikaans vir opname in die Wêreldatlas van Tale van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) voorsien.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is hierdie atlas ’n interaktiewe en dinamiese aanlyn hulpmiddel wat die status van tale regoor die wêreld dokumenteer. Dit is in Februarie 2022 bekendgestel met die doel om die wêreld se linguistieke diversiteit en veeltaligheid as ’n unieke erfenis en skat van die mensdom te bewaar, te laat herleef en te bevorder.

Tans sluit dit 8 324 tale in, waarvan ongeveer 7 000 steeds in gebruik is. Die status van hierdie tale word geklassifiseer as veilig (65 tale), potensieel kwesbaar (1 163 tale), bedreig (2 698 tale), beslis bedreig (2 362 tale), ernstig bedreig (462 tale) en kritiek bedreig (383).

Die platform bied aan navorsers die geleentheid om die name van lande of tale as soekterme te gebruik. Die inligting oor elke land en taal wat hierin opgeneem word, is van insette van die betrokke land se regeringsaangewese fokusgroep afhanklik. Volgens die span wat die atlas bestuur, het alle regerings nog nie op versoeke om fokusgroepe aan te wys, gereageer nie. In die geval van Suid-Afrika, is geen inligting oor die land se bevolking of amptelike tale op die platform beskikbaar nie. Wat Afrikaans aanbetref, is die taal bloot as potensieel kwesbaar geklassifiseer.

“Duidelik is die opstellers van die platform nie geheel en al onkundig oor Afrikaans nie. Die feit dat dit as potensieel kwesbaar beskryf word, wys daarop dat daar wel kennis geneem is van die uitdagings wat ons taal in die gesig staar,” het Bailey verklaar.

AfriForum het voorlopig inligting oor die bevolking en amptelike tale van die land aan die platform gestuur en sal voortgaan om noodsaaklike inligting daaraan te voorsien soos wat dit beskikbaar raak. “Langs hierdie weg kan AfriForum bydra tot die beskerming en bevordering van Afrikaans in die breër landskap van tale in die wêreld,” het sy afgesluit.

Soortgelyke plasings