|

Ontkenning van die krisis in Suid-Afrikaanse onderwys vererger situasie

In reaksie op die Centre for Development and Enterprise (CDE) se verslag oor die noodtoestand waarin onderwys in die land verkeer en die Departement van Basiese Onderwys se ontkenning van die bevindings, het AfriForum verklaar dat die departement se houding die rede vir die ontstaan en verdere agteruitgang van die situasie is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, wys die verslag van die CDE, The Silent Crisis: Time to Fix South Africa’s Schools, onder meer daarop dat baie leerders ten spyte van onderrig ongeletterd bly, dat vele onderwysers oor onvoldoende opleiding beskik en dat korrupsie die departement kniehalter. “Dit is, soos die departement inderdaad erken, nie nuwe nuus nie. Onafhanklike nasionale en internasionale studies wys al meer as ’n dekade lank hierop. Die feit dat dit egter steeds brandpunte bly en dat die situasie selfs vererger, is waarop die CDE se verslag dui, en wat ernstige kommer moet skep,” het sy verklaar.

In Suid-Afrika is daar privaat en openbare skole wat uitnemende onderwys lewer, maar hierdie eilande van uitnemendheid kan nie vergoed vir die meer as 80% skole wat volgens die departement se eie ramings wanfunksioneel is nie. Privaat inisiatiewe probeer ook die gebrekkige onderrig aanvul, maar kan nie almal bereik wat deur die krisis geraak word nie.

Bailey noem dat dit veral kommerwekkend is dat ’n buitengewone groot persentasie van die jaarlikse nasionale begroting aan onderwys toegewy word, veel meer as wat in ander presterende lande wêreldwyd die geval is, maar steeds in ’n moeras van oneffektiwiteit vasgevang bly. Kwessies soos die toenemende geweld in skole, vakbonde se inmenging in onderrig, gebrekkige infrastruktuur, swak gekwalifiseerde onderwysers en die gebrek aan moedertaalonderrig is probleme waarop AfriForum deurlopend wys. “Helaas is die departement gefokus op politieke en ideologiese agendas, en nie op die lewering van gehalte onderrig nie,” het sy bygevoeg.

“Die huidige voortdurende pogings om ’n verouderde, ideologies gelaaide en inhoudelik ongrondwetlike konsepwet soos die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) ten alle koste deur te voer, bewys dit opnuut. Solank as wat dit die geval is, gaan die departement se ontkenning van die krisisse in onderwys geen oplossings bied nie, en gaan die aantal gebrekkig geletterde jongmense wat die stelsel oplewer, aanhou bydra tot onaanvaarbare hoë jeugwerkloosheidsyfers,” het sy gesê.

AfriForum sit verskeie aksies om by te dra tot veiliger, presterende skole voort en sal ook konsepwetgewing soos die BELA-wet aanhou teenstaan.

Soortgelyke plasings